Ds. Deon van der Berg se Persoonlike Geloofsverklaring
Augustus 15th, 2007 by Magdel
Saam met die Apostoliese Geloofsbelydenis wil ek die volgende deel maak van my persoonlike geloofsverklaring.
- ‘n Honger vir God. Ek wil nooit op ‘n plek kom waar ek voel dat ek God ken nie. Daarom wil ek bly groei in my persoonlike verhouding met God. En dit wil ek graag doen deur Sy Woord te bestudeer. Daarom wil ek ook graag ‘n honger vir God by lidmate ontwikkel.
- Verbintenis aan God se Woord. Daar is by my ‘n liefde vir God se Woord. Dit is ‘n liefde wat ek steeds wil laat groei. Woordgesentreerdheid en die gesag van die Skrif as God se Woord is vir my ononderhandelbaar. Daarom wil ek ook graag ‘n liefde vir God se Woord by lidmate ontwikkel. My visie vir my lewe is om ‘n man van God se Woord te wees.
- Openheid vir die werking van die Heilige Gees. Gal.5:25 (“Ons lewe deur die Gees. Laat die Gees nou ons gedrag bepaal.”) is sedert my bekering vir my ‘n kernvers vir my elke dag se lewe. Ek weet die Heilige Gees is ‘n werklikheid en leef binne in my. Hy is hier! Daarom wil ek ook graag ‘n gemeente lei in die besef van die realiteit en werklikheid van die Heilige Gees. Ek bely dat ek in eie krag nie ‘n gemeente kan laat groei nie, maar dat dit alleen die werk van die Gees is.
- Die kruisiging en opstanding van Christus. Ek bely dat God die mensdom en my persoonlike sondes op Christus wat sonder sonde was, aan die kruis gaan aflaai het en dat Hy in my plek aan die kruis gesterf het, sodat ek deur my eenheid met God, vrygespreek kan wees. 2 Kor.5:21 is vir my die eerste en laaste teks in die Bybel. Jesus Christus is my enigste Verlosser. Ek glo ook dat Jesus die enigste weg na die Vader is. Ek aanvaar Jesus se woorde onvoorwaardelik as Hy leer dat Hy die weg en die waarheid en die lewe is en dat niemand na die Vader kan kom behalwe deur Hom nie. Daarom is evangelisasie en dissipelskap, wat die laaste opdrag van Jesus is, vir my ‘n opdrag waaraan ek nie ‘n keuse het om gehoorsaam te wees nie. Ek glo dit is God se opdrag vir elke gelowige. Ek glo onwrikbaar dat Christus fisies met ‘n veranderde liggaam opgestaan het uit die dood en dat die graf leeg is. Dit is die belydenis van my lewe en dit maak my Christen. Ek glo dat Christus met sy opstanding Here geword het. Ek bely Christus as die Here van my lewe en daarmee aanvaar ek sy volle gesag oor my lewe en wil ek dus my lewe inrig volgens God se Woord en wil. As Christen wil ek vanuit die opstanding van Christus leef. Ek glo ook dat Christus opgevaar het na die hemel en dat Hy nou in die hemel staan (verkies staan bo sit) en aktief regeer oor die Skepping. Hy is in beheer.
- Ek glo in die ewige lewe. Ek weet dat ek sedert my bekering ‘n kind van God is (Joh.1:12) en dat ek reeds die ewige lewe besit omdat ek in Jesus Christus glo (1 Joh.5:13). Ek is nie skaam om dit te bely en te verkondig nie. Ek glo dat Christus gegaan het om vir ons ‘n plek voor te berei en dat die hemel, wat my permanente tuiste is, ‘n werklikheid is. Die hemel en die besit van die ewige lewe reduseer ek nie tot ‘n destydse wêreldbeeld nie. Dit is vir my ‘n werklikheid en daarom verkondig ek dit graag.
- Deeglike voorbereiding. My rigsnoer vir die bediening en Woordverkondiging is 2 Tim.2:15. “Lê jou daarop toe om jou tot beskikking van God te stel as ‘n arbeider wat die goedkeuring van God wegdra, ‘n arbeider wat hom vir sy werk nie hoef te skaam nie, wat die Woord van die waarheid suiwer verkondig.” Daarom is deeglike voorbereiding vir prediking vir my ontsettend belangrik. Daarom wil ek baie tyd spandeer, veral met die Woord en in eksegese, om voor te berei vir Woordverkondiging. Ek glo ook dat die Woord eers deur my moet gaan voordat ek dit kan waag om met iemand anders te deel.
- Toewyding in gebed. Dit is vir my wonderlik om die geleentheid en vrye toegang te mag hê om God te aanbid en te verheerlik; om in gebed voor sy genadetroon te kan staan. My lewe en bediening kan en wil ek nie anders as om dit in gebedsafhanklikheid te doen nie.
- Liefde vir mense. Jare gelede het ek dit by Coenie Burger raak gelees waar hy skryf dat jy net mense kan begelei in lewensverandering as jy nuut dink oor mense deur lief te wees vir …, daar te wees vir …, deel te wees van …, en entoesiasties te wees oor … die mense wat jy bedien. Dit is hoe ek veral oor die Valleisig geloofsfamilie voel wat ek oortuig is God my geroep het om te kom dien.
- Oprigting van leiers. Ek glo dat dit God se ontwerp vir die kerk is om die bediening terug te sit in die hande van lidmate. Ek glo dat dit my roeping is om mense toe te rus vir hulle diens en vir die opbou van die liggaam van Christus. Daarom beskou ek die oprigting van leiers vir die bediening as een van die prioriteite vir my bediening.
- Oor die kerk. Ek glo dat die kerk (Christene) die enigste hoop vir die wêreld is omdat die kerk die enigste draers van hoop is, naamlik die Evangelie van Jesus Christus ons Here. Dit omskryf vir my wat ek glo die roeping van die kerk is. Oor my rol as leraar in die gemeente Valleisig, sien ek myself as werknemer van ‘n gemeente wat mense moet mobiliseer om hierdie Hoop (Christus is ons hoop) onbeskaamd in hul leefwêreld uit te leef.
- Maak tyd vir die gesin. Dit is vir my belangrik om tyd te hê om ‘n eenvoudige koppie tee/milo saam met my gesin te drink. ‘n Hegte gesonde huwelik en gesin is vir my as leraar ‘n prioriteit. Ek haal Billy Graham aan: “If I had my life all over again, I’ll spent more time in prayer and with my family.”
- Om gedissiplineerd te wees. Dit is vir my belangrik om selfdissipline toe te pas en dit wat ek moet doen, stiptelik, deeglik en met oorgawe te doen. Dit is vir my net so belangrik om betyds te wees vir afsprake en vergaderings omdat ek respek het vir ander mense en hul tyd.
- Geen kompromieë nie. Ek wil graag doen, sê en dink wat reg is. Ek wil, saam met my gesin en die Valleisig geloofsfamilie, doen wat reg is in die oë van die Here.