Kernwaardes is diepliggende waardes wat mense se gesindhede, strewes en gedrag bepaal. Valleisig se kernwaardes berus op Bybelse beginsels wat ons as geloofsfamilie saambind en aan ons die energie en opwinding verskaf om God te dien en sy Koninkrykswerk te doen. Dit bepaal ons houdings en optrede teenoor mekaar. Dit rig ons doelwitbeplanning en inspireer ons in die uitvoering van aktiwiteite. Dit skep ‘n kultuur wat ons missie ondersteun.
1. Geloofsekerheid
Elke Valleisiger getuig dat Jesus Christus sy/haar Verlosser en Here is en dat hy/sy die ewige lewe het (Joh 1:12; Ef 2:8; 1 Joh 5:13).
2. Dissipels
As gelowiges is ons almal navolgelinge van Jesus en ywerige leerlinge van sy leer. Dissipelskap is ‘n proses van lewensverandering, van geestelike groei, om al meer soos Jesus te word. Dissipels is geheel en al verbind – geestelik, emosioneel, intellektueel en fisies – aan die Seun van God en die eise van dissipelskap (2 Tim 2:2; Luk 14:25 ev).
3. Gestuurdes
God stuur elke lidmaat in die gemeenskap uit, toegerus met die Heilige Gees, om die blye boodskap van die evangelie aan ander mee te deel (Matt 28:19; Hand 1:8; 2 Kor 5:19–21).
4. Diensbaarheid
God gee aan elke gelowige besondere gawes en talente waarmee ons mekaar in die gemeente bedien (1 Kor 12:7, 11). God plaas ons ook in ‘n breër gemeenskap om ander se nood en behoeftes raak te sien en daar sy hulp en troos te bring.
5. Rykdom in verskeidenheid
Elke mens is uniek en anders. En verskillende mense vorm gemeenskappe wat van mekaar verskil. Die onderlinge andersheid van mense is ‘n gawe van God. Daarom beskou ons die verskeidenheid as ‘n Godgegewe geleentheid wat ons aangryp om mekaar te bedien en só die liggaam van God op aarde te vestig en Hom daardeur te dien.
Category for post not found












