Jy kyk na » Tuisblad » Pitkos » Die Gewone Dinge is Belangrik.

Die Gewone Dinge is Belangrik.

Die Gewone Dinge is Belangrik.

Dis opvallend dat in die vermaninge wat Paulus in sy briewe rig, hy die gelowiges oproep om sulke doodgewone dinge te doen. Hy vermaan byvoorbeeld die mans om hulle vrouens lief te hê, die kinders om aan hulle ouers gehoorsaam te wees, en ouers om hulle kinders nie so te behandel dat hulle nie meer na hulle wil luister en opstandig raak nie. Daar lê eintlik so ‘n klomp eenvoudige lewenswysheid in die dinge wat Paulus sê. Hy vra nie ingewikkelde dinge van hulle, soos groot dade van geloof, selfopoffering, die omkeer van die samelewing en so meer nie.

Soms vra God wel sulke groot dinge van ‘n mens. Dit kan gebeur dat God jou roep om jou huis en land te verlaat en in die vreemde ‘n sendeling te gaan word. Dit kan gebeur dat God jou vra om soos in die verhaal van die Ryk Jongman al jou besittings te verkoop en dit onder die armes uit te deel. As Jesus destyds van mense sulke groot en radikale geloofsdade gevra het, is daar geen rede hoekom Hy dit nie vandag ook sou doen nie.

Tog is dit in die reël nie so dat die Here buitengewone dinge van ons vra nie. Hy vra van ons gehoorsaamheid aan Sy gebooie in die klein en skynbaar onbelangrike dinge. Want dit is daar waar die lewe gebeur, en waar ons ‘n verskil kan maak. Wat help dit om ‘n groot prediker te wees, maar jy kan nie eens met jou vrou klaarkom of met jou eie mense oor die weg kom nie? Wat help dit om die samelewing te wil verander, en jy is nie eens bereid om die minste in jou eie huis te wees en die teekoppies te was nie?

Wat God van ons vra, is gehoorsaamheid aan Sy liefdesgebod, in die klein dingetjies en die grote. In die buitengewone en die gewone dinge. Die apostel Paulus sê dat dit ‘n mens niks baat as jy die tale van mense en engele kan praat, al jou goed uitdeel, jou liggaam oorgee om verbrand te word – almal buitengewone dinge – en jy het nie die liefde nie. Die liefde is die uitvoering van God se wet. Maar die wet word nie net in groot en indrukwekkende dinge vervul nie. Dit word juis in die klein en skynbaar onbelangrike dinge vervul.

Dit is juis wanneer ons in die klein dingetjies liefde en bedagsaamheid betoon,

dat ons vir die wêreld wys hoe Jesus gelyk het. Want hy was by uitstek die Een wat by die klein dingetjies en die onbelangrike mensies in die samelewing stilgestaan het. Hierdeur het Hy kom wys dat hy vir ons liewer as vir Homself is. Wat sien diegene rondom jou elke dag?

Jy kan 'n boekmerk maak hier:
del.icio.us:Die Gewone Dinge is Belangrik. digg:Die Gewone Dinge is Belangrik. spurl:Die Gewone Dinge is Belangrik. simpy:Die Gewone Dinge is Belangrik. blinklist:Die Gewone Dinge is Belangrik. furl:Die Gewone Dinge is Belangrik. reddit:Die Gewone Dinge is Belangrik. fark:Die Gewone Dinge is Belangrik. blogmarks:Die Gewone Dinge is Belangrik. Y!:Die Gewone Dinge is Belangrik. smarking:Die Gewone Dinge is Belangrik. magnolia:Die Gewone Dinge is Belangrik.


 

Wil jy graag terugvoer gee?



Kliek hier om al die adverteerders te sien

Designed by Maroonblog.com | Sitemap