Jy kyk na » Tuisblad » Pitkos » Die Kerksteins se swembad

Die Kerksteins se swembad

’n Swembad moet goed onderhou word, anders is dit meer ‘n las as ‘n plesier. Die swembad kan net mooi gehou word as jy onthou om die regte soort chloor met die regte tussenposes in te gooi. Nooit mag jy oorslaan nie. As jy ’n swembad so in stand hou, is dit ‘n heerlike plesier. So het mnr. Kerkstein geglo. Daarom het hy sy hele gesin betrek by die versorging van hulle swembad.

Diakoné, sy dogter, het elke oggend een koppie chloor (presies afgemeet) versigtig en stadig in die water gegooi. Dit was weer ouboet (genoem Oudste) se werk om elke Saterdag die blarefilter skoon te maak en die filtreerstelsel terug te spoel. Mevrou Kerkstein het elke dag met die langsteelnet die blare wat van die bure se boom af ingewaai het, afgeskep. Vir die hele Kerkstein-gesin was die swembadskoonmakery geen las nie.

Almal het mnr Kerkstein se filosofie gedeel: ‘n swembad vereis ’n goed geordende bestaan. ‘n Gedissiplineerde lewe. En bowenal moet hy gebruik en geniet word. In ’n sin kan ‘n mens sê dat hulle swembadaanbidders geword het.

Op die Kerkstein se rustige en aangename swembad gesentreerde bestaan is daar selde inbreuk gemaak. Hulle was ’n geïsoleerde gesin wat nie onnodig kontak met mense gesoek het nie. Hulle het ‘n goed versorgde tuin met hoë, netjiese mure tussen hulle en die bure gehad. Hulle het dus nie veel van die bure af geweet nie.

Af en toe, wanneer die Kerksteins met hulle duur motor vir ‘n oomblik moes wag vir die outomatiese hek om groot genoeg oop te gaan sodat hulle kon inry, het hulle ‘n flitsende blik gekry op die buurman of een van sy gesinslede. Hulle het so arm voorgekom, so asof hulle nie pas in die buurt nie …

Maar daar het maande verbygegaan sonder dat hulle mekaar ontmoet het. Een oggend toe mevrou Kerkstein die meterleser van die stadsraad by die hekkie moes inlaat om die waterlesings te kom neem, het dié met ’n ontstellende storie vorendag gekom: die stadsraad was verplig om die bure se watertoevoer af te sny. Hulle kon nie meer die waterrekening betaal nie.

Twee dae later, toe mevrou Kerkstein al vergeet het van die waterstorie, lui die klokkie by die hek. “Ja”, vra sy oor die interkomstelsel. “Dit is mevrou Naas”, klink die krakende stem. “Ons woon langsaan. Ons het nie water in die huis nie en ek het gewonder of u vir ons ’n emmertjie water kan gee?”

Mevrou Kerkstein was uit die veld geslaan en moes vinnig dink. “Ja seker, ek stuur die bediende.” Die aand het sy vir haar man van die voorval vertel en hoewel hulle vir mekaar gesê het dat hulle maar sal moet help, was daar tog ’n vae onrustigheid dat hulle veilige en aangename bestaan bedreig word.

Dit het inderdaad ’n daaglikse ritueel geword dat die klokkie gelui word met dieselfde storie. En elke keer het mevrou Kerkstein die bediende met die emmertjie water gestuur.

Toe die waterrekening die einde van die maand kom, het mnr Kerkstein, wat goed van alles boekhou, geskrik vir die effense styging en besluit dat iets gedoen sal moet word. Hy kon egter nie heeltemal so ver om sy vrou te verbied om die water te stuur nie.

Die saak het maar so aan gesloer.

Dit was die Sondag toe die hele gesin, soos gebruiklik, in die swembad ontspan, dat die keerpunt gekom het. Die bediende het kom sê dat die klokkie gelui het en dat dit weer die vrou van langsaan is. “Ons is nou besig, sê ons kan nie help nie”, was mnr Kerkstein se vinnige antwoord. Daarmee was die saak afgehandel en het die familie die oggend verder in en om die heerlike swembad deurgebring. Hulle het nie gemerk hoedat ’n paar kindertjies met verlangende oë oor die muur loer nie – so baie helder skoon water, hoekom swem die mense daarin in plaas van om dit te drink? Na daardie Sondagoggend het die Naas-mense gelukkig nie weer kom pla vir ‘n emmertjie water nie.

’n Paar dae later het hulle vroeg een oggend ’n ambulans in die straat opgemerk en later die oggend, toe mevrou Kerkstein na ‘n vriendin se tuin-teeparty ry, het sy tog stilgehou en navraag gedoen. Twee van die kinders is die oggend weens dehidrasie in die hospitaal opgeneem. Hulle toestand is ernstig. Vir die res van die familie is daar blyplek elders gekry. “Ons is tog so dankbaar dat daar ‘n heenkome gevind is,” het mevrou Kerkstein gesê en haar gehaas om betyds by haar teeparty uit te kom…

(Met erkenning aan prof. Julian Müller)

Izak du Plessis

Jy kan 'n boekmerk maak hier:
del.icio.us:Die Kerksteins se swembad digg:Die Kerksteins se swembad spurl:Die Kerksteins se swembad simpy:Die Kerksteins se swembad blinklist:Die Kerksteins se swembad furl:Die Kerksteins se swembad reddit:Die Kerksteins se swembad fark:Die Kerksteins se swembad blogmarks:Die Kerksteins se swembad Y!:Die Kerksteins se swembad smarking:Die Kerksteins se swembad magnolia:Die Kerksteins se swembad


Wil jy graag terugvoer gee?



Kliek hier om al die adverteerders te sien

Designed by Maroonblog.com | Sitemap