Jy kyk na » Tuisblad » Pitkos » Die Sub-Prima Krisis van Geloof

Die Sub-Prima Krisis van Geloof

Op die oomblik word wêreldmarkte grootliks versteur deur die s.g. Sub- Prima Krisis van die Amerikaanse ekonomie. Dit kom daarop neer (en ek is nie ‘n ekonoom nie) dat Amerikaanse banke aan kliënte geld geleen het, met die hoop dat die ekonomie altyd ‘n bloeitydperk sou beleef. Om hulself (die banke) te beskerm het hulle die risiko aan ander banke en finansiële instellings verkoop. Mense het dus bo hulle eie verwagtinge en vermoëns geleef.

Toe Flip Loots, ‘n Omroeper van godsdienstige programme by RSG, nou die dag ‘n e-pos uit Bagdad ontvang wat met ‘n pynlike uitroepvraag vra: “waarom mors julle nog tyd om oor God te praat, Hy bestaan nie”, het ek net weer besef hoe pynlik waar die Sub-Prima Krisis in die geloof is. Dit word veral sigbaar in die tipiese Post-Moderne mens, hulle wat saam met ons werk, woon en leef, maar wat ernstige vrae het oor Hom.

Dink oor die man uit Bagdad. Waarskynlik Afrikaanssprekend, wat bloed leef, eet, en drink en wat wonder oor die God van Liefde en wat dalk eens op ‘n tyd Kersliedere gesing het oor die Vredeskind. En nou in die naakte waarheid van die bloeddeurdrenkte strate van Bagdad loop hy hom vas teen die leerskool van die lewe. Of dalk is dit ‘n Broer of Suster uit Zimbabwe wat vra of hulle al die tyd verkeerd gebid het?

Ek weet ons kan baie slim antwoorde gee, maar maak die antwoorde regtig saak? Ons werk in die geloof ook baie keer met die veronderstelling dat daar altyd voorspoed sal wees…, juis omdat ek ‘n gelowige is? En dan verkoop ons die risiko aan God , want Hy is Almagtig en in beheer. Hy is immers vir alles verantwoordelik, sonder om verantwoordelikheid te aanvaar vir ons goedkoop Teologie en ons goedkoop antwoorde. Dit is teen dié goedkoop antwoorde dat die man van Bagdad en vele Post-Modern mense in opstand kom.

Die Teologie kan alleen weer in hierdie wêreld kredietwaardigheid terugwen, as hy erken dat hy nie al die antwoorde het nie, as hy erken dat die mense van ons tyd na meer soek as net “glo net “. Geloof is tog immers om te ondek en dit duur die hele lewe lank. Dit is ‘n reis deur die lewe. Tussen Bagdad en Harare, tussen Auswitch en Somalië, oral soek ons God. Dit is dié dat die Emmausgangers in hulle eie verwagtinge die versugtinge uitspreek met die woorde” Ons het so “GEHOOP” dat dit HY is wat Israel sou verlos…

Dan breek Hy die brood voor hulle oë en in hulle teleurgestelde gemoed ontdek hulle God is met hulle op pad. Het jy God vandag ontdek?

Jy kan 'n boekmerk maak hier:
del.icio.us:Die Sub-Prima Krisis van Geloof digg:Die Sub-Prima Krisis van Geloof spurl:Die Sub-Prima Krisis van Geloof simpy:Die Sub-Prima Krisis van Geloof blinklist:Die Sub-Prima Krisis van Geloof furl:Die Sub-Prima Krisis van Geloof reddit:Die Sub-Prima Krisis van Geloof fark:Die Sub-Prima Krisis van Geloof blogmarks:Die Sub-Prima Krisis van Geloof Y!:Die Sub-Prima Krisis van Geloof smarking:Die Sub-Prima Krisis van Geloof magnolia:Die Sub-Prima Krisis van Geloof


Wil jy graag terugvoer gee?



Kliek hier om al die adverteerders te sien

Designed by Maroonblog.com | Sitemap