Is Om Te Glo Moeilik?
Geloof A of Geloof B?
Deur dr. Louw Alberts
Die sogenaamde stryd of debat tussen die wetenskap en die Godsdiens is ‘n pseudo stryd. Dit is nie so belangrik of jou interpretasie van die eerste hoofstukke in die Bybel bots of ooreenstem met die oerknal en evolusie modelle of nie.
Geloofstandpunt
Die sleutelvraag is watter geloof het jy gekies. A of B? Is daar ‘n persoonlike almagtige wese (Wie ons God noem) wat alles tot stand gebring het en steeds aan die gang hou? So ‘n standpunt kan nie bewys of teenbewys word nie. Dit is ‘n geloofstandpunt.
Of is alles die resultaat van onpersoonlike blinde ongerigte toeval vanaf die begin tot by die mens. Laasgenoemde is die geloofstandpunt van die ateïs. Dit kan nie bewys of teenbewys word nie. Dit moet geglo word.
Maak jou keuse
As jy geloof A gekies het dan bly die verdere uitdaging om God se kommunikasie te lees, interpreteer en gehoorsaam. As jy geloof B aanvaar het is jou toekoms steeds niksseggend.
Wat is jou keuse?
![]()
Geloof is nie natuurlik
Die eerste stap is dan om eers tot bekering te kom, en die geloof van Jesus Christus te aanvaar. Die tweede stap ‘Om te glo’ en die geloof te hê is egter nie maklik nie - want geloof is nie natuurlik in die mens aangebore nie. Dis eintlik asof ons daarvan hou om te twyfel - in alles en almal. Geloof lê in die geestelike dimensie wat ons nie kan sien nie. Nog moeiliker?
Geloof is ‘n gawe van God wat Hy afgemeet en aan elkeen van ons afsonderlik gegee het. Ons sien dit in Rom. 12:3 “…lê jou liewer daarop toe om beskeie te wees in ooreenstemming met die maat van geloof wat God aan elkeen toebedeel het.” Geloof is dus maar een van die dinge wat God aan elkeen van ons (as ‘n gawe) gegee het - behalwe al die ander gawes en seëninge.
Oefen - Oefen
Elkeen van ons moet dus gedurig oefen om ons geloof te versterk, omdat dit vir die meeste van ons nie natuurlik kom nie.
Hoe doen ons dit? Hoe versterk ons, ons geloof in die enigste Saligmaker, Jesus Christus? Jakobus 1:7 sê: “Maar hy moet in die geloof bid, sonder om te twyfel;…” Geloof kan versterk word en groei slegs op een manier - dit is om te bid, en gereeld te bid.
Daarom bid ons vandag:
“Liewe Vader, versterk my geloof elke dag en help my om te glo en te hoop in die dinge wat ek nie sien nie. Maak my sterk in Jesus Christus en help my om my geloof in my lewe te weerspieël. Dankie liewe Vader. Amen”
Category for post not found












