Oorwinning kom na ‘n Stryd
Ek is seker daarvan dat ons almal Saterdagaand voor die kassie gesit het om te kyk of die Bokke gaan oorwin soos ons verwag het. Dit was ’n naelbyt eindstryd. Hoe baie keer het ons gewonder of hulle dié harde stryd gaan oorwin. Oorwinning is nie op ‘n skinkbord vir hulle gegee nie. Behalwe vir dit wat ons Saterdag aand beleef het, moes hulle vir vier jaar hard werk en voorberei. Met velle kritiek wat na hulle kant geslinger is in hierdie tydperk, moes hulle daardeur werk en hulle fokus op ‘n wêreldbeker oorwinning hou. En hoe wonderlik was dit nie vir hulle en vir ons hele land toe die eindfluitjie blaas en dit is die Bokke wat hulle hande seëvierend in die lug opsteek nie.
Dit laat my onwillekeurig dink aan ‘n geestelike stryd waarin sommige gelowiges gewikkel is. Dit is ‘n stryd wat ek dink elke gelowige in sy/haar lewe deurgaan. Jy is dalk op die oomblik midde in daardie stryd. Jy is ‘n Christen wat in ‘n geestelike stryd gewikkel is met sonde in jou lewe. Het Christus werklik vir al my sondes betaal? Kan ek ook hierdie verskriklike aaklige sonde(s) na Hom toe neem en sal Hy my regtig daarvoor vergewe? By dit alles het jy ook ‘n teenstander, ‘n vyand, die Duiwel, wat jou die heel tyd so graag daaraan wil herinner dat hierdie sondes jou nie vergewe sal word nie. Kom ons kyk wat sê God in sy Woord vir ons.
Lees 1 Petrus 2: 18 - 25
“Hy het self ons sondes in sy liggaam aan die kruis gedra. Daardeur is ons vir die sondes dood en kan ons lewe in gehoorsaamheid aan die wil van God. Deur sy wonde is julle genees” (24).
Duideliker as dit kan ek dit nie stel nie. Die Woord is duidelik dat daar deur Christus se kruisoffer, oorwinning vir elke sonde is. Ek gee vir u George Bennard se verhaal wat as predikant deur ‘n geestelike stryd is en wat uiteindelik sy hande in oorwinning na God uitgesteek het.
George Bennard het sy werk as evangelieprediker by die Heilsleër begin. Agt jaar later is hy in die Metodistekerk as leraar georden. Sy toegewyde bediening as evangelis in die kerk was vir baie jare hoog aangeskryf. Een keer het Bennard met ’n bedrukte hart, weens persoonlike beproewing, na sy huis in Albion, Michigan teruggekeer. Hy het die betekenis van die kruis van Christus ernstig oordink en wat Paulus in Filippense 3:10 bedoel het, waar hy praat van gemeenskap met die lyding van Christus: “Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word…”. Hy het lang ure begin deurbring met Bybelstudie, gebed en oordenking. Op ’n dag het die lig vir hom deurgebreek. Hy skryf daarvan: “I saw the Christ of the cross as if I were seeing John 3:16 leave the printed page, take form and act out the meaning of redemption. The more I contemplated these truths the more convinced I became that the cross was far more than just a religious symbol but rather the very heart of the gospel.”
Tydens hierdie geestelike stryd in sy hart het die tema van “The Old Rugged Cross” in sy gedagte begin vorm. Op ’n dag begin die woorde en die melodie van die lied in sy gemoed oopgaan. Die Heilige Gees maak die kruis en die oorwinning deur die kruis vir ’n mens ’n groter en groter werklikheid, as ons deur gebed en Bybelstudie ons harte vir Hom open: “Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie. En God, wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, want Hy pleit, volgens die wil van God vir die gelowiges” (Rom.8:26). Binne ’n kort tyd het hy die woorde en die melodie geskryf en dit vir Charles Gabriel, ’n leidende liedskrywer, gestuur. Gabriel het vir hom, in eie woorde, terug laat weet: “You will centainly hear from this song, Mr. Bennard.” Dit was profetiese woorde, want hierdie lied het een van die bekendste geestelike liedere geword.
Daar’s ’n dierbare kruis, waar my Heiland bewys
Die liefde wat Hy vir my het;
Dáár is alles voldaan en die vyand verslaan,
Dáár word ek van sonde gered
Koor:By die kruis, by die kruis wil ek bly,
Tot die stryd hier benee is volstry;
Tot ek eens in die hemel sal woon,
Dáár verwissel ons kruis met ’n kroon!
O, die dierbare kruis, waar die uiterste prys,
Deur kosbare bloed is betaal;
Dáár is smarte gely en versoening verkry
Waar Jesus oorwinning behaal.
By die dierbare kruis sal ons loflied verrys,
Tot eenmaal daarbo om die troon.
Want eens is ons tuis in die Vader se huis,
Dan verwissel ons kruis met ’n kroon.
Sing of oordink hierdie lied se woorde en die woorde 1 Petrus 2:24 totdat ook jy jou hande in oorwinning in die lug kan opdruk en sê: “In Christus is ek ‘n oorwinnaar! In Christus dra ek die oorwinningskroon.”
Leef jou oorwinning.
Deon van der Berg












