SALM OF JELLIEVIS?
Is jy soos ’n salm of soos ‘n jellievis? Wag laat ek eers vir jou verduidelik voordat jy antwoord. Salm begin hulle lewe in die koue varswaterriviere van die noordelike halfrond. Kort nadat hulle uitgebroei het, begin hulle met hulle lang reis na die see. Daar leef hulle die grootste deel van hulle volwasse lewe. En dan gebeur iets vreemd. Selfs wetenskaplikes kan dit nie uitpluis nie, maar een mooi dag begin die salm terug swem huis toe. Maak nie saak hoe ver weg hulle is nie, hulle swem terug na die oorspronklike rivier waar hulle uitgebroei het. Hulle swem stroomop, oorkom verskeie hindernisse soos watervalle en vyande wat hulle wil opvreet. Die ongelooflike is dat al was hulle jare lank weg, hulle kom altyd weer by die plek uit waar hulle gebore is. Hulle “byt”vas tot hulle weer by die huis is en daar lê hulle weer nuwe eiers en sterf. Die nuwe salmfamilie broei kort daarna uit en die proses herhaal van voor af. Af in die rivier tot by die see; terug na die rivier, stroomop tot by die huis. As jy dus ooit ’n salm eet, onthou – jy eet moed, volharding, getrouheid en betroubaarheid. Dis wat jy nodig het om te oorleef.
Jellievisse word gebore in die see en gaan dood in die see. Hulle het die vermoë om te beweeg, maar hulle gebruik dit byna nooit nie. Hulle word hoofsaaklik deur seestrome meegesleur wanneer hulle op soek is na kos. Af en toe sal die branders ’n jellievis op die strand uitspoel en as jy nie kyk waar jy trap nie, kan jou vakansie lekker opgemors word.
Nou ja, is jy ’n jellievis of ’n salm?
Die verskil tussen ’n salm en ’n jellievis is amper soos die verskil tussen mense. Sommige het rigting; ander dryf net rond. Die probleem met laasgenoemde is dat hulle iewers in die lewe kom en vra: “Was my lewe die moeite werd?” Jellievismense vind en vervul nooit die rede waarom hulle geskep is nie. Maar die mense wat rigting het, die salmmense, kan oor hulle lewe terugkyk en sien dat hulle rigting in hulle lewe ontdek het. Vra jouself: Het my lewe ’n doel? Weet ek waarheen ek op is? Is ek bereid om alle hindernisse te oorkom om my doel te bereik?
Soms dink ek dat ons ’n bietjie salm en ’n bietjie jellievis is. Isak het sy lewe begin soos ’n salm: Hy het sy doel op aarde geken. Hy het geweet hy was die kind wat vir almal gewys het dat die onmoontlike vir God moontlik is. In sy liefde vir Rebekka het hy ’n rede om te lewe ontdek. Maar met die opvoeding van sy seuns, Esau en Jakob, was hy maar ’n jellievis. Hy het toegelaat dat omstandighede en mense vir hom die rigting vir sy lewe aandui.
Maar as salm het Isak vir ons in Genesis 26:25 ’n voorbeeld gestel wat ons gerus kan volg. Hy het ’n altaar gebou. Dit beteken dat hy aan almal wou sê: God is vir my Nommer 1 in die lewe.”
Isak het ook ‘n tent opgeslaan. Daardeur het hy sy liefde vir sy familie gewys. Salmmense gee om vir hulle familie.
Daarna het Isak ‘n put gegrawe. Daar kon mense in die omgewing en reisigers altyd heerlike vars water kom skep. Salmmense gee om vir en help hulle medemens.
Dit is die drie verbintenisse – God, familie en medemens – wat salmmense het terwyl hulle op pad is huis toe (hemel toe). Is dit ook joune?
Erkenning: Aanvaar God my deur Ewald van Rensburg.
Izak du Plessis












