The Passion of the Christ
The Passion of the Christ was nie vir my ‘n lewensveranderende ervaring nie! Daarvoor was die sout smaak van bloed te dik in my mond. Wat veronderstel was om ‘n geestelike ervaring te wees, was vir my ‘n bloedige nagmerrie. Dit het my nie nader aan die Here gebring nie.
Dit het my eerder laat terugdink aan ‘n gesprek wat ek gehad het hier aan die begin van my teologiese studies. Ek het by vriende in die regsberoep gekuier. Slim jong mense wat die wêreld aan hulle voete gehad het. Vlymskerp breine met nog skerper argumente en oortuigings wat my onder kruisverhoor geneem het oor geloof. En ek het soos ‘n onbetroubare getuie in my stoel rondgeskuif. Veral toe die uitklopvraag gevra word: Waarom moes Jesus sterf? Waarom kon God nie aan ‘n ander manier gedink het om die wêreld te red nie?
Ek kon daardie aand geen oortuigende antwoord gee op die vraag waarom Jesus moes sterf nie. Ek het einde ten laaste flou wal gegooi met: “Jy moet maar net glo.” Maar dit het niemand tot bekering gebring nie. My skerp regsvriende het my uitgelag.
Ek het van die vernederende gesprek probeer vergeet…totdat ek The Passion of the Christ gesien het. Want toe ek uit daardie teater stap wou ek vir die eerste keer weet: “Waarom was dit nodig dat Jesus moes sterf?” Wat se sin is daar in ‘n geloof wat om lewe en dood vasklou aan ‘n leerstelling dat iemand vir ons gesterf het?
Die Time het genadiglik vir my selfbehoud, dieselfde week as wat Passion of the Christ uitgereik is in 2004, dieselfde vraag uitgebasuin: “Why did Jesus have to die?” Dit het my laat besef dat ek nie die enigste mens is wat hierdie vraag vra nie. Miljoene Christene en nie-Christene worstel met hierdie gedagte. En daar is soveel redes daarvoor as wat daar mense is wat hierdie vraag opper. Die Time-artikel gee drie antwoorde wat in pas is met die Bybelse getuienis en met die heersende teologiese teorieë:
· Goed vs. Boos
· Skuldvereffeningsteorie
· Rolmodelteorie
Al drie teorieë wil versoening met God bewerkstellig. Maar partykeer klink hierdie antwoorde vir my so flou soos my “jy moet net glo”-poging. Want ons het dit gevul met onverstaanbare teologiese argumente wat geen mens se hart kan raak nie.
Ek het egter ‘n vierde rede raakgelees waarom Jesus moes sterf. Dit staan daar in Johannes 20 in Die Bybel. Drie keer. So onopvallend en tog so duidelik: “Ek het die Here gesien.” Jesus moes sterf sodat mense die Here kon sien.
Maar eers moes hy mens word om lyf te gee aan ‘n onsigbare God. Daarom het hy sy tentjie as’t ware langs ons s’n kom opslaan. Saam met die mense het hy hulle pyne en vreugdes ervaar. Hy het saam met hulle gelag en feesgevier. Hy het saam met hulle gehuil oor geliefdes wat gesterf het en oor mense wat honger was. Hy’t hulle gesien glo en hy’t hulle gesien twyfel. En hy’t verstaan want hy was die menslike lyf van God.
Sy reisgenote kon dus as’t ware God se baardstoppels voel as hy hulle vasgedruk het. Hulle moes sy sopnat wange gevoel het as hy bitterlik saam met hulle gehuil het. Hulle moes sy oggendasem kon ruik na ‘n nag se slaap in ‘n bondeltjie bymekaar. So intiem naby soos asem het hierdie menslike God aan mense gekom. Daarom moes hy ook soos ‘n mens sterf.
Dit maak dit egter nog nie makliker om Jesus se kruisdood met oortuiging te verdedig nie. Dit laat my nie die kansel met bravade bestyg om met ‘n bulderende stem aan te kondig dat Jesus gesterf het nie. Ek struikel nog steeds oor die geloofsbelydenis wat Jesus se kruisiging in ‘n koue kliniese leerstelling sonder siel verewig het.
Die feit is egter dat uit hierdie daad ‘n kerk ontstaan het, ‘n geloof, ‘n enorme voortdurende aksie soos die golwe van die see met sy getye. Daarom hou ek tog vas aan die kruis. Maar ek hou nie vas aan die kruis omdat Jesus gesterf het nie. Ek hou vas aan die kruis omdat die boodskap van Christus nie by die kruis gestol het nie. Ek hou vas aan die kruis omdat Jesus daarna opgestaan het. In Jesus se opstanding uit die dood sien ‘n mens die Here.
Die volgende woorde word aan Einstein toegedig: “Die beste ervaring wat ‘n mens kan hê is die misterieuse. Dit is die egte hart van alle wetenskap.” Of hy dit gesê het, sal ek nie vir seker weet nie. Maar ek weet vir seker dat my analitiese wese smag na die misterieuse. Smag na ‘n opgestane Here? Selfs al maak dit nie sin nie?
Dis dalk waarom ek eendag in ‘n lesing oor Eksegese die volgende versie neergeskribbel het:
die wetenskap van God
kom in my kop tot bod:
histories, narratief, sekuurstruktuur
word postmoderne perspektiewe
in my denke ge-eksegetiseer.
Vanaand vertel ek God (onwetenskaplik) van my seer.
Dus, aan my regsvriende: Ek kan nog steeds nie julle vraag behoorlik antwoord nie. Ek stoei maar soos elke ander mens met my klein begrip om dit te verstaan. Maar ek hou vas aan die kruis want ek het die Here gesien.
Ek het die Here gesien omdat ek kon opstaan na elke verpletterende nederlaag in my lewe. Ek sien die Here as ek in die hospitale en huise sien hoe mense stry en baklei om op te staan na ernstige siekte. Ek sien die Here as ek by mense sit en hulle moedeloos is oor daar nie kos in die huis is nie, maar nog steeds glo dat die Here sal voorsien. Ek sien die Here wanneer mense sukkel-sukkel opstaan nadat iemand waarvoor hulle lief is, gesterf het. Ek sien die Here as mense wat sonder hoop en redding was, se lewens 180 grade omkeer wanneer Jesus hulle pad kruis.
Ja die kruisiging van Jesus was ‘n weersinwekkende bloedige orgie wat dit soms vir my moeilik maak om te preek. Ek weet egter nie of ek in ‘n Here sou kon glo wat nadat hy vir die wêreld mooi stories vertel het, net eendag op ‘n wolkie kon klim om onaangeraak uit hierdie wêreld te vertrek nie. Dit sou nog minder sin gemaak het. Die Here waarin ek glo, het as mens die sinloosheid van hierdie wêreld aan sy lyf gevoel en hy het daaraan gesterf. Maar hy het opgestaan en mense kon die Here sien omdat hy die littekens van ‘n menslike lewe vir hulle kon wys.
Hoe weet ek dit? Ag ek weet nie. Ek glo dit maar net. In die fliek “Pollock” wat handel oor die lewe van die Amerikaanse kunstenaar Jackson Pollock, is daar ‘n toneel waarin ‘n verslaggewer van ‘n tydskrif vir hom vra wat hy dink van die kritiek op sy abstrakte kuns. Mense sê dat dit geen betekenis of diepte het nie. Pollock antwoord dan dat hy nie veel omgee daarvoor nie. Hy kan in elk geval nie verstaan waarom hulle so te kere gaan nie. Niemand staan voor ‘n blombedding en bespiegel oor die dieper betekenis daarvan nie. Mense hou van blomme omdat dit vir hulle mooi is en omdat dit sin gee aan ‘n vaal bestaan.
Ek wil vir geen oomblik te kenne gee nie dat my geloof sonder diepte is of dat dit bloot ‘n blombedding sonder betekenis is. Maar ek steur my nie meer aan kritiek teen die Christelike geloof nie. Dit gee sin aan my bestaan. My antwoord aan my regsvriende sou dus vandag, met die uitsondering van ‘n effense klemverskuiwing, nie veel anders klink nie. Ek kan vandag hier uit die binneste van my spirituele wese hakkel: “ék glo maar net.” Dit maak vir my sin want ek het die Here gesien.












