Wanneer laas het jy die kar parkeer en sommer winkel toe gestap vir middagete? Ek is bevrees dat ons soveel dinge rondom ons miskyk omdat ons gewoon altyd in derde rat oppad is iewers heen. Daar is die bekende Engelse vraag: “When did you last stop to smell the roses?”. Ek wil dieselfde vraag vir jou vra. Tog gaan dit selfs nog verder as om te ruik. Wanneer laas het jy selfs gesien dat daar rose langs die pad in die son pronk?

Ek hou nogal van stap. Deesdae maak ek ’n bietjie meer tyd daarvoor, en probeer dit doen sonder my oorfone in my ore of my selfoon in my hand. Ek probeer rondkyk, raaksien, en gebruik dit as ’n geleentheid om sommer net met die Here te praat. Ek is elke keer ontnugter oor alles wat ek raaksien en beleef. Net nou die dag loop ek om te gaan middagete koop. Terwyl ek so stap wonder ek — waarom doen ons dit so min? Is dit omdat ons skaam kry? Wat sal mense sê wanneer hulle ons so sien loop sonder wiele onder ons? Gaan iemand my sien wat my ken? Dit klink belaglik, en tog is dit van die vrae wat deur my eie gedagtes geflits het toe ek die eerste paar keer sommer so alleen sole op die teer gesit het winkel toe.
Kom ek vertel vir jou van so ’n stappie.
Hier in die stad is alles baie meer gerieflik as wat ons dalk besef. Ek en my gesin bly minder as drie kilometer van twee winkelsentrums af. Jy kan kies waar, wat en selfs hoe jy die kooptog wil aanpak. Op hierdie dag het ons lus vir vars broodrolle en ’n gaargemaakte eisbein. Ek stap, en rondom my is dit besig. Ek dink nie eers die stappie was vyftien minute nie, en tog sou ek ’n bundel kon skryf oor alles wat ek beleef het. Skaars uit die hek uit het twee baie maer honde verwoed vir my geblaf. Soveel so dat ek maar aan die ander kant van die pad verbygestap het. By die eerste sirkel val dit my op dat die stadsraad ’n paar bome uitgehaal het op die sypaadjie. Ek het dit al baie gesien met die verbyry, maar vandag moet ek kringe loop rondom gate en slote, tydelike baniere en plastiekbottels van die dors grouers en kappers en wegryers. Ook by die eerste robot moet ek ’n rukkie stilstaan, want daar word aan die pad gebou. ’n Vroutjie staan met haar hande op haar knieë met ’n oranjerooi vlag in haar hand. Sy moet die verkeer reguleer wanneer die groot vragmotors se bakke vol is en die verkeer moet aandurf. Sy groet my, maar ek kan sien die in-die-son-stanery het haar vandag al moeg gemaak. By die tweede robot stap-draf ’n man ongemaklik met ’n boks in sy hande. “Wat dra jy so swaar?” vra ek vir hom. Hy maak die boks oop en wys vir my ’n hele oes ryp nartjies soos wat al die jare in my oupa se tuin gehang het. Hy sê vir my dat hy avokadopere ook het, en sy vriend is met ’n soortgelyke boks aan die sukkel oor ’n reeds rooi lig. Op die lamppale sien ek ’n verskeidenheid goed — op die eerste ’n handgeskrewe advertensie. As jy verslaaf is aan dagga, swaar dwelms of alkohol, en graag weer ’n normale lewe wil leef, bel hierdie nommer. Die volgende paal het ’n bloedrooi advertensie. Ek sien heel eerste die 18+ regs bo in die hoek. Hierdie bord adverteer die grootste ‘ADULT ONLY’ webblad in Suid-Afrika. Voor my sit ’n man op die sypaadjie met sy kop in sy hande, en verby my stap ’n vrou wat vir my sê: “Sjo, it’s hot today”.
Nadat ek by die winkel klaar is en my koopgoed gekoop het, stap ek anders terug huistoe.
Hierdie stappie het vir my baie meer gegee as ’n middagete.
Dit het weereens my oë oopgemaak. So dikwels is my oë so toe vir die mense, nuanses, seerkry en vreugdes rondom my. Vandag blammeer ek my kar. Met die sonskadu voor my oë en die lugverkoeler in my gesig lyk die wêreld darem maar baie anders. Tog is die wêreld op die voetgangerspad vir my meer eg. Ek beleef iets hier. Ek beleef mense se emosies en wonder wat hulle stories alles behels. Ek sien mense wat hulp nodig het, vriendelike glimlagte wat groet en ek wonder — waarom stap ons so min die ‘regte’ wêreld in?