Een Liggaam, een Gees.
Ek het onlangs die voorreg gehad om vir ‘n week in Namibië te kuier. Die doel van hierdie uitstappie was dat ons as sesdejaars moes gaan sien hoe die kerk onder die Boesmans lyk.
Ek moet bieg: ek het glad nie uitgesien vir hierdie uitreik nie, en as ek eerlik is, het ek gedink dit sou ‘n mors van tyd wees. Dit was egter glad nie!

Ek wil graag bietjie met julle deel oor hoe die kerk onder die boesmangemeenskappe funksioneer.
Die interessante ding is dat die meeste van hierdie gemeentes deel vorm van die NG Kerk, met dominee, diaken, ouderling en selfs ’n kerkraad! Tog is dit heeltemal anders as waaraan ons hier in Pretoria-Oos gewoond is.
Die eerste aspek van hulle kerk wat my opgeval het, is dat die mense werklik hunker om meer van die evangelie te leer. Hou in gedagte dat hierdie mense nie kan lees of skryf nie, so die evangelie word deur middel van prentjies aan hulle oor gedra, maar hulle WIL daar wees. Hulle kerke sit in die middel van die week omtrent voller as wat ons kerk op ‘n Sondag sit! Die mense smag daarna.
Die tweede aspek van kerk wees wat ek wil uitlig doen ek graag aan die hand van ‘n verhaal wat ons gehoor het.
Een van my mede studente het vir ‘n gemeente gevra wat die grootste wonderwerk is, wat hulle al beleef het. Die antwoord het meerderheid van ons verbaas! Want ons dink mos aan wonderwerk as hierdie enorme gebeure wat plaasvind in die bo-natuurlike, maar tog mis ons dan die wonderwerk hier reg voor ons. Die een ouderling van die gemeente antwoord toe en sê dat die grootste wonderwerk wat hy al beleef het, was dat hy vir sewe dae sonder kos was en dat God elke dag vir hom die nodige krag gegee het om op te staan en aan te gaan.
Die boesmans verstaan iets daarvan dat berge nie geskuif hoef te word voordat iets ‘n wonderwerk is nie, ‘n wonderwerk kan iets na en klein ook wees – ek wonder of ons nie soms hierdie massiewe dade verwag terwyl ons die wonderwerke naby ons miskyk nie.
‘n Verhaal van ‘n ander gemeente help hier ook om die punt te staaf. Terwyl ons onder ‘n boom sit en vrae verruil oor hoe ons God meer in die samelewing kan sien antwoord ‘n stokou oom. Hy sê:
‘Ons is te vinnig vir God.’
Nou onmiddellik wil mens te kere gaan en die stelling uitmekaar trek, want beledig ons nie vir God as ons dit sê nie? Maar tog is daar ‘n stukkie waarheid in hierdie stelling, want ons leef so ‘vinnig’ en in so ‘n kits wêreld dat ons dikwels te gejaagd is om God raak te sien. So is ons nie dan maar wel ‘te vinnig’ vir God nie?
Laastens wil ek graag met julle deel oor hoe verskeie kerke en denominasies werk in Boesmanland. Net soos in ons samelewing is daar ‘n magdom verskillende kerke. NG, Hervormend, Gereformeerd, ZCC, Sewendedag-Adventiste en die lot!
Hier is egter die kruks van die verhaal, alhoewel elkeen deel vorm van hulle eie kerk kom hulle ALMAL op ‘n Sondag saam om Christus te aanbid en te loof.
Een liggaam, een Gees.
Dit was die herhalende gesegde vir die week gewees. Maak nie saak hoe ver die gemeentes uit mekaar is nie – en glo my minimum is omtrent 50 kilos uit mekaar uit! – was dit hierdie woorde wat iewers gefunksioneer het.
So het ek dan tot die besef gekom dat alhoewel dogma beslis ‘n plek het in die kerk en dat ons definitief moet streef om ‘n Bybelse teologie voorendag te sit, moet dogma geensins Christus se plek vervang nie. Christus is die middelpunt van ons hele geloof – of jy nou deel is van 3CI, ZCC, Hervormend of NG; dit gaan oor Christus.
Soli Deo gloria.
P.S.
Die boesmans het nie ‘n woord vir dissipel in hulle taal nie. So moes die sendelinge iets uitdink om die idee van ‘n dissipel oor te dra. Hulle kom toe met die idee van ‘n ‘spoorsnyer van Christus’ na vore, en vandag is dit hoe elke gelowige in Boesmanland homself beskryf – ‘n spoorsnyer van Christus.
Mag jy ‘n spoorsnyer van Christus wees elke dag van jou lewe.