Deesdae kan ons dae sonder krag, redelik gerieflik oorleef met gasstowe, wegneemkos en sonpanele. Dit bly ’n reuse frustrasie, maar met ’n paar kersies vir lig kan ons relatief normaal aangaan. Laat ons egter vyf dae sonder water wees, en ons moed droog op. Selfs die water wat jy vir ingeval in die bad getap het raak op ’n stadium klaar. Jy kan nie kosmaak nie. Die toilette kan nie spoel nie. Dis ’n reuse frustrasie. Kort-kort maak ons krane oop net om te onthou dat daar nie water is nie, en dit maak ons van voor af kwaad.
Die afgelope week sonder water het my baie laat dink en baie geleer.
Eerstens het ek besef hoe afhanklik ons van water is. Ek het besef hoeveel water ons daagliks gebruik en mors sonder om daaraan te dink. Ek het besef dat van ons, heeltemal te gemaklik is, te min doen, en selfs ons bediendes in die waterrye laat staan terwyl ons in die kar wag vir ons beurt. Ek het beleef hoe afsprake gekanseleer word gewoon omdat ons nie water by die huis het nie.
Het jy al ooit iewers in ’n woenstyn gestaan en geweet dat hierdie ’n ongenaakbare plek is. Waar nie water is nie, is nie lewe nie. So begin God se verhaal in die bybel ook op bladsy twee van Genesis met ’n dorre wêreld. God laat ’n fontein uit die grond uit borrel en alles verander! Plante, diere, lewe, mense… Hierdie fontein word ’n tuin, word Eden, en dit is maar net die begin van alles wat goed is.
’n Rivier begin vloei en daar is oorvloed, vir almal. Dan die hartseer ironie: Tenspyte van al die water en lewe, bly die mens dors en dood. Hulle wil meer hê: meer wysheid, sekerhed en beslis meer beheer. In hulle soeke na nóg, word hulle dors en beland hulle in die woestyn – vêr wag van die paradys af.
Maar God gee nie op nie…
Hy roep vir Jakob, ’n man met baie foute wat woestyn in vlug en op ’n put afkom. By hierdie put ontmoet hy ’n vrou, byna soos in die begin in die paradys, en sy 12 kinders, Israel, se storie begin oppnuut. Tenspyte van al die water wat God gee, bly hulle dors vir iets anders. Omdat hulle so dors het, beland hulle skoon in ballingskap – totaal uitgedroog. Esegiël noem hulle droeë bene wat in die son lê. Tog kom God weer, en weer, gee water en blaas lewe in hulle sodat hulle weereens op hulle voete kan kom.
En dan kom Jesus.
Hy kom op ’n slag by dieselfde put aan as Jakob van ouds. Weer is daar ’n vrou. Dan sê Jesus vir haar: ‘Jy sal altyd dors bly as jy net van hierdie water drink. Ek het egter vir jou water wat jou diepste dors kan les’.
Hy praat van God se lewe wat deur Hom, na ons toe vloei. In Jesus word dit vir elke liewe een van ons ’n realiteit. Dit gebeur selfs aan die kruis. Die soldate steek ’n spies in sy sy en daar loop bloed uit die wond uit – maar ook water. Net nóg ’n herinnering, soos ons dit in die kategismes leer: God is die aller oorvloedige fontein van alles wat goed is. Jesus gee vir my en jou ook water – water wat lewe gee.
Water wat maak dat ons nooit weer hoef dors te wees nie.
En daar sit ons vyf dae sonder water en skielik voel ons ons broosheid. Dalk kan dit ons vir ’n oomblik laat vra: Waar lê die ware fontein van lewe? My fontein? Jesus nooi ons, wat dors is uit om na Hom toe te kom en te drink. Miskien kan die waterraad se uitdagings vir my en jou ’n herinnering wees. Miskien is dit nie maar ’n onnodige infrastruktuurprobleem nie, maar ’n geestelike uitnodiging om weer te dink, weer te drink van die ware Bron. Een waar die krane nie droogword en ons nie die bad vir ingeval, vol water hoef te maak nie. Een waar ons nie in rye hoef te staan vir noodwater nie. Dit is ook ’n bron, waar jy nie iemand kan stuur om die rye aan te durf, terwyl jy in die warm kar wag nie.