As jy vandag ‘n lys moet opstel van alles waarvoor jy onvoorwaardelik lief is, hoe lank gaan dit vat voordat jy jou eie naam neerskryf?
Eendag lank, lank gelede in die land van Min Tevrede, was daar ‘n jong blonde dogtertjie, Sera. Sera was die enigste kind, haar oë groot en haar toekoms blink. Almal rondom haar het planne gehad: om slim te word en om groot te raak. Al wat ander meisies wou doen, was mooimaak en tittewyt, maar vir Sera, was dit moeilik om vir haarself te kyk. Sy sou nooit universiteit toe gaan nie, nooit belese raak of ‘n man vang nie. Sera het ‘n ander droom gehad: sy wou geluk vind. Deur die wêreld het sy gereis, sy het oornag by elke gehuggie en in elke paleis. Vir jare lank het sy gesoek, in elke dorp en om elke hoek. Eendag, tussen twee dorpe, langs ‘n koue waterstroom, ontmoet sy die een by wie haar soektog sou eindig.
Die man se hand hou toe vir haar ‘n kommetjie koue water uit waarmee sy haar dors kon les. Hiermee sluk sy haar dors weg en gooi die res daarvan in haar fles. ”Ek soek na geluk,” sê Sera vir die man. Hy kyk na haar en glimlag, terwyl hy sy vuil hare met sy vingers uit sy gesig uit kam. “Geluk is nie iets wat ‘n mens kan weggee nie,” sê hy vir haar, maar loop weg en roep haar om hom te volg met ‘n handgebaar. Deur die woud klim hulle oor stompe, deur strome en verby krokodille. Die paadjie bloei uit in ‘n oopte, met ‘n klein gehuggie in die middel van die droogte. Daarbinne is net die nodigste: ‘n katel, ‘n tafeltjie en ‘n pragtige swaar houtkis. “Geluk kan ek nie vir jou gee nie, maar dit weet ek gewis…,” sê die vuil-haar man terwyl hy liggies teen die katel rus. Hy buig oor in die kis en haal ‘n satynsakkie uit. Sy oë blink met die sakkie in sy hand, terwyl hy diep in hare kyk. ”… In hierdie sakkie is die mooiste geskenk wat ek nog ooit gekry het”, sê hy en hou dit na haar toe uit. “Geluk sal vanself kom as jy mooi genoeg daarin kyk.”

Terug by die stroompie met die satynsakkie in haar hand, sit Sera rustig, haal diep asem en maak haar gedagtes vakant. Uit die sakkie haal sy ‘n klein vierkantige badkamerspieël. Sy kyk na haarself en voel haar oë deurdring tot diep in haar siel. Haar lewe lank reis sy nog altyd om iewers geluk te gaan vind …
en hier vind sy geluk …
in die oë van ‘n kind.
Dit is háár oë,
en hulle blink…
En dalk is dit waar Sera se storie met joune kruis. Want hoe gereeld soek ek en jy nie geluk in ver plekke, nuwe planne, ander mense, of die volgende groot ding nie? Soos Sera, reis ons deur dorpe en droom ons van paleise. Maar uiteindelik, tussen al die geraas en gejaag, wag daar ‘n eenvoudige stroompie – ’n plek van rus – en ’n spieëltjie. Hierdie spieël kan vir ons verskillende goed laat sien. Deur wie se oë kyk ons in hierdie spieël? Die wêreld s’n, of God s’n?
Die Bybel herinner ons telkens daaraan dat ons nie eers ver hoef te gaan om waarde of geluk te vind nie. Psalm 139 sê ons is wonderbaarlik geskape. Ons lees sommer op die eerste paar bladsye van die Bybel dat ons na die beeld van God geskep word; Lukas 17:21 sê die koninkryk van God is nie net daar buite in die wêreld nie, maar binne-in ons. 2 Korintiërs 3:18 praat van die spieël waarin ons kyk en die heerlikheid van God sien – en dit wat ons sien, verander ons. Wat al hierdie tekste saam vir ons sê, is eenvoudig, maar kragtig: geluk is nie iets wat jy verdien of moet jaag nie. Dit kom nie as jy hoog genoeg geklim het of genoeg bymekaar gemaak het nie. Dit is iets wat jy ontdek wanneer jy besef wie jy in God se oë is.
Sera het dit eers verstaan toe sy in haar eie oë kyk – toe sy haarself sien soos God haar sien. Sy het gesoek vir geluk en gevind dat dit al die tyd in haar was: in haar waardigheid, haar siel, haar bestaan, haar Skepper.
Miskien moet jy ook vandag ’n oomblik neem, stil raak en kyk. Kyk nie net in ’n gewone spieël nie, maar in die waarheid van wie jy is. In die waarheid van Wie jou gemaak het. Vra weer vir jouself die vraag waarmee ek begin het:
As jy vandag ’n lys moet opstel van alles waarvoor jy onvoorwaardelik lief is – hoe lank gaan dit vat voor jy jou eie naam neerskryf?
Dieselfde naam wat in die Skepper van die heelal se handpalm gegraveer is.
Mag jy, soos Sera, ontdek: geluk begin nie daar buite nie. Dit begin in jou oë. En God laat hulle blink.