
Ek het ’n klasmaat, Bernard, op Universiteit gehad wat uiters intelligent was en akademies baie goed presteer het. Ek onthou veral drie dinge van hom:
- Ek het ’n prent teen my kamermuur gehad van ’n meisie wat in ’n park op ’n bankie sit. Toe Bernard die eerste keer by my kom kuier het, het hy voor die prent gaan staan en gesê: “Fotograaf James Wilson, foto geneem in 1978 in Kew Gardens, Londen.” Hoe hy dit geweet het weet ek glad nie, maar ek het later die prent afgehaal en agterop gelees dat Bernard presies reg was.
- Toe ons by geleentheid buite die lokale moes wag voor ’n eksamen, het ons by die motorfiets parkering gestaan. Bernard het na een van hulle gewys en gesê: “Kawasaki 650, 22km per liter, kraglewering 200 …” Hy het aangehou praat, maar ek het hom maar net geglo, ek het nie gedink om dit ook te probeer toets nie.
- Bernard het later, heeltemal teen my verwagting, ’n meisie ontmoet en ek het hulle dikwels hand aan hand in die straat sien loop. Ek het verneem dat die meisie se ouers baie beïndruk met Bernard was, want sedert hulle ontmoeting het hulle dogter se punte met meer as 10% gestyg.
Bernard het toe nooit ’n dominee geword nie. Hy was geensins ongelowig nie, hy het net meer belang gestel in Grieks en Hebreeus as in mense. Ek verneem hy het ’n dosent in Antieke Tale geword.
Waarom dink ek aan Bernard? Omdat hy alles verstaan het van Grieks en Hebreeus, maar baie min van die gewone studentelewe. Hy kon ingewikkelde probleme uitpluis, maar nie mense nie.
Wat is die doel van christenwees?
Is dit net om te weet dat Jesus vir jou sonde gesterf het en dat jy daarom eendag hemel toe gaan? Is dit om die Bybel goed te ken? Of is dit (veral) om ’n begeerte te hê om elke dag aan jou geloofsverhouding met God te werk en dit hoe langer hoe meer te versterk?
In gemeentes ontdek ons dat ons verhouding met God ons lewens moet vorm, en ons moet dit aktief inoefen dag na dag.
Daar is ’n spreuk wat sê: “Gee my ’n kind tot op ouderdom 7 jaar en ek sal hom/haar vir altyd ’n gelowige maak.” Die veronderstelling is dat mens ’n kind so kan beïnvloed dat die indruk wat jy op hom/haar maak, lewenslank is. Terselfdertyd wys dit ook op ’n ander (ontstellende) saak, naamlik dat mense bevooroordeeld is ten opsigte van die kennis wat hulle reeds besit en meestal net soek na inligting wat hulle bestaande kennis bevestig (“confirmation bias”). Mense verander nie sommer van opinie as hulle eers hulle keuse gemaak het nie.
Oral probeer gemeentes mense sodanig beïnvloed dat hulle gehoorsame volgelinge van Jesus sal wees. Maar dit word al hoe meer duidelik: Die kerk sal nooit nét met inligting (regte leerstellings) lidmate se gedrag kan verander nie. Trouens, dit speel ’n veel kleiner rol as wat ons dink. Vra dit maar vir enige persoon wat hulle gewoontes wil verander: die alkohol-afhanklikes, die onfikses wat meer wil oefen, die wat op dieet wil gaan, die wat wil ophou rook, ens.
Hoe werk geloofsvorming dan? Kan volwassenes nog verander?
Jesus het hierdie saak aangespreek deur sy dissipels bloot te stel aan daaglikse leefgewoontes wat “tweede natuur” by hulle sou word. Hulle moes nie meer dink voor hulle doen nie, hul gedrag moes spontaan gebeur. Soos wanneer mens ’n musiekinstrument bemeester. Geoefende kitaarspelers kyk nie meer waar hulle vingers druk nie, hulle vingers vind die plek spontaan.
In die gelykenis van die skeiding van die skape en die bokke by die eindtyd (Matteus 25), vertel Jesus dat twee groepe mense op grond van wat hulle gedóén het, geskei sal word. Een groep het “reg” opgetree, die ander “verkeerd”. Beide groepe vra: “Wánneer het ons dit gedoen?” Hulle het gewoon nie besef dat hulle dit doen nie, beide die goeie en slegte gewoontes was “tweede natuur”. Geloof word daagliks gevorm deur dade van gehoorsaamheid. En daardie dade vorm dan ons lewe.
Ons ry Vrydag in die bus op pad na Kathu om ons (herstelde) voertuig te gaan haal. ’n Man klim by een van die stopplekke in en kom sit langs ons. Later begin ons praat en ons hoor hy is ’n pastoor in Upington. En wanneer hy hoor ek is ’n dominee sê hy: “Ek het net ’n aanvoeling gekry ek moet hier kom sit. Die manier waarop julle my gegroet en ingenooi het, het vir my gesê ek wil graag hier sit.” So eenvoudig en maklik vind ons gemeenskap tussen vreemdelinge.
Ons moet net sulke goeie verstaners wees van die lewe soos wat ons van die Bybel moet wees. Want God stuur ons na mense toe.