Hoe moet ons dissipels wees?

Die Bybel vertel vir ons ’n storie wat oor baie meer gaan as net ons persoonlike redding of morele verbetering— dit is die storie van ’n roeping. Van die begin af, in Eden al, is die mensdom geskep om koninklike priesters te wees—om saam met God oor die skepping te heers en om Sy teenwoordigheid en seën op aarde te verteenwoordig. Maar toe die mens besluit om hul eie pad te kies, is daardie roeping verbreek. Eden is net ’n gedagte. Ons identiteit as priesters is prysgegee.

God het egter nooit opgegee op ons nie. Deur die hele Bybel sien ons beloftes van Iemand wat ons roeping sou herstel—’n beter priester soos Melgisedek, ’n nuwe Moses, ’n groter Dawid. Al hierdie figure wys vorentoe, na Jesus toe — die uiteindelike koninklike priester. Hy het sy lewe gegee in liefde, die bose oorwin, en vir ons die weg terug na God se teenwoordigheid oopgemaak.

Maar hier is die deel wat ons dikwels miskyk: Jesus het ons nie net gered van iets nie; Hy het ons gered vir iets. Ná sy opstanding is Jesus as hemelse Hoëpriester verhef. En toe stort Hy die Heilige Gees uit met Pinkster. Skielik word gewone mense—vissermanne, tollenaars, armes, slawe —lewende tempels, gevul met God se teenwoordigheid. Hulle word die nuwe priesterskap. 

Dis nou ons…

Om ’n dissipel van Jesus te wees, beteken om jou oorspronklike roeping te herontdek. Ons is nou God se lewende tempels, sy koninklike priesterskap (1 Petrus 2:9). Maar dit beteken nie ons dra spesiale klere of staan in ’n gebou nie. Dit beteken ons leef elke deel van ons gewone lewens met ’n buitengewone doel.

Soos die priesters van ouds, aanbid ons — met musiek, poësie en lof wat God vereer. Ons bring offers — nie diere nie, maar onsself: ons tyd, ons energie, ons hulpbronne. Ons sorg vir die armes, bid vir die gebrokenes, pleit vir dié sonder ’n stem. Ons word lewende offers (Romeine 12:1), wat Jesus se liefde in die wêreld beliggaam. Dit is in elkgeval waarvoor ons geroep en bemagtig word. 

Dissipelskap beteken nie om weg te vlug van die wêreld nie, maar om daar in te gaan — as priesters. In ons werk, ons huise en ons gemeenskappe, leef ons as God se verteenwoordigers. Ons tree op, praat en het lief soos Jesus. Ons leef só dat hemel en aarde weer ontmoet. So word die hemel vir almal ’n werklikheid. 

Dit is ons roeping: nie net om in Jesus te glo nie, maar om soos Jesus te wees—die koninklike priester wat sy lewe gegee het sodat ons weer kan lewe.

Dit alles vereis dat ons heel eerste, ’n verhouding moet hê met die Koning van die heelal, Jesus self! Werk vandag aan hierdie verhouding…

Leave a comment