Ek vra Sondag vir die gemeente: “Waarin vind jy jou sekuriteit – anders as in God?” Dis ’n ongemaklike vraag, veral as jy eerlik met jouself is.

Nou, as jy my tweejarige vra, is die antwoord maklik: sy dummy. Die wêreld mag dalk ineenstort, maar solank hy daai stukkie plastiek en silikoon in sy mond het, is alles reg. Hy kan slaap, stil wees en troos vind. Sonder dit? Paniek. Dis eintlik snaaks hoe duidelik kinders hul afhanklikheid wys. Maar dis ook eerlik. En dit laat my wonder: Wat is my “dummy”?
Vir my is dit dalk ’n plan. Of beheer. Of sekerheid oor geld, gesondheid, of werk. Dikwels is dit die illusie dat ek als onder beheer het. Dis dinge wat nie verkeerd is nie – maar wat maklik in afgode verander wanneer ek daarop begin staatmaak vir my vrede.
Ons is hierdie week in Eksodus 14, daardie dramatiese oomblik waar Israel tussen Farao se leër en die see vasgevang staan. Dit is ‘n storie vol beweging, vrees, en – uiteindelik – redding. Maar wat my tref, is hoe menslik hulle reaksie is:
“Het jy ons hierheen gebring om te sterf? Was daar nie genoeg grafte in Egipte nie?”
“Laat ons liewer teruggaan na Egipte!”
Ek herken daardie stem. Dis die stem van vrees. Van iemand wat eerder terug sal gaan na slawerny as om in die onbekende te vertrou. Want slawerny is darem ten minste bekend. Dit voel sekerder as geloof.
Die volk het vergeet hoe God hulle uit Egipte gelei het. Die wonderwerke. Die wolkkolom. Die plae. Die bloed teen die deurkosyne. God se voorsiening was vars in hulle geheue… maar nie in hulle hart nie.
En ek verstaan dit. Ek vergeet ook.
Dis maklik om te sê “God sal voorsien” wanneer daar genoeg geld in die bank is, genoeg kos in die kas, en ek weet wat môre bring. Maar geloof word eers sigbaar wanneer jy die see voor jou sien, die vyand agter jou hoor aankom, en God sê: “Gaan aan!” – al is daar nog nie ‘n pad nie.
Ek sien dit in my eie lewe. Wanneer my planne nie uitwerk nie. Wanneer onsekerheid intree. Wanneer ek nie weet wat volgende is nie. Dis dan wanneer my “dummy” verdwyn. En dan ontdek ek iets: ek raak paniekerig. Want ek was nie regtig op God se voorsiening gefokus nie – ek was afhanklik van daardie sekere iets. My dummy. My Egipte.
Ek dink weer aan my seuntjie. Hy gaan nie eers soek vir sy dummy nie – hy vra my. Vol vertroue. “Mamma, dummy?” Dan sê ek “Nee, jy is mos nou ‘n groot seun”, dan is dit eers drama… maar dan klou hy vas aan my. Want as die dummy nie daar is nie, moet ek wees. Ek moet troos wees. Ek moet veiligheid wees.
En is dit nie wat God van ons vra nie?
Om op te hou klou aan die goed wat net tydelik troos bring – en eerder aan Hom vas te hou? Selfs as ons dit nie verstaan nie. Selfs as die pad onbekend is. Om Hom toe te laat om ons veiligheid te wees.
Wat my die meeste in Eksodus 14 tref, is vers 15. God sê vir Moses:
“Wat roep jy tot My? Sê vir die Israeliete hulle moet aanhou trek.”
In ander woorde: Hou op stilstaan in paniek. Gaan vorentoe. Ek maak ’n pad. Dis nie hoe ek gewoonlik dink geloof werk nie. Ek wag gewoonlik vir God om eers die pad oop te maak, en dan sal ek beweeg. Maar geloof werk anders: ek moet begin loop, en God maak die pad oop terwyl ek beweeg. Dis teen-intuïtief. Maar dis hoe God se koninkryk werk.
Ons het ‘n keuse: ons kan terugverlang na Egipte – na ons ou vorme van sekuriteit – of ons kan God vertrou met elke tree in die onbekende in. Geloof beteken nie ons sal altyd weet waarheen ons gaan nie. Dit beteken ons weet met Wie ons gaan. Dalk moet ek myself minder afvra “Wat gaan môre gebeur?” en meer vra “Wat sê God vandag?” Dalk is die uitnodiging om op te hou probeer beheer uitoefen en eerder te sê:
“Here, ek is bang. Ek sien nie die pad nie. Maar ek kies om te beweeg. Ek kies om U meer te vertrou as my dummy. Ek kies U bo Egipte.”
So ek vra jou vandag – soos ek myself gevra het:
Waarin vind jy jou sekuriteit – anders as God?
Wat is daardie ding waarsonder jy dink jy nie kan lewe nie?
En… is jy bereid om dit vir ’n oomblik neer te sit en God te vra om jou hand te neem?
Jy hoef nie alles te verstaan nie. Jy hoef net te beweeg.
Hy is saam met jou.