
Jesus vertel van ’n ryk man wat soveel het dat hy sy skure moet afbreek en groter bou. Sy plan: sit terug, ontspan, eet, drink en leef lekker.
En dan — net nadat die deure van sy nuwe skuur gesluit is — gaan hy dood.
God sê vir hom: “Jou dwaas.” (Lukas 12)
Dis harde woorde.
En wat hier gebeur gaan nie net oor luukse leefstyl-gierigheid nie. Dis groter as dit. Dis oor die versoekings van opgaar.
Ons almal bou skure.
Sommige van ons maak dit vol met geld of goed. Ander hou liefde terug. Ander bêre hul talente daarbinne.
Dalk doen ons dit omdat die lewe hard is. Omdat mense ons teleurgestel het. Omdat ons bang is vir nog verlies.
Maar Jesus wys ’n ander ekonomie: nie een waar jy alles styf moet vashou nie, maar een waar jy vrylik leef, gee en ontvang.
Hy noem die ryk man ’n dwaas. Nie omdat hy suksesvol was nie, maar omdat hy dít gemis het:
Die vreugde om iemand anders te help. Die bevryding wat kom met vrygewigheid. Die ervaring om self te ontvang.
Hy het gierig geraak, nie net met sy besittings nie, maar ook met sy kans om deur ander liefgehê te word.
Wat beteken dit om ryk voor God te wees?
Dit begin by raaksien: God het reeds buitensporig oorvloedig geskep.
Elf duisend voëlspesies. Miljarde ligjare se sterre. Duisende soorte blomme en mense. Skaarsheid is nie in God se woordeskat nie. Dis iets wat óns skep uit vrees.
Om ryk voor God te wees, is om in daardie oorvloed te leef. Nie in vashou nie, maar in loslaat.
Gee en ontvang
Ek onthou toe my oudste dogter, Thea-Mari, gebore is. Ek wou alles self doen. Niemand moes help nie. Ek was sterk genoeg. Onafhanklik genoeg.
By Ana-Lia se geboorte was ek al ’n bietjie minder dwaas. Ek het die susters laat help, en daardie ekstra uur se slaap gekry wat ek só nodig gehad het.
Soms is dit moeiliker om te ontvang as om te gee. Want dit laat ons weerloos voel. Afhanklik. Maar juis dáár ontdek ons mekaar.
’n Petroljoggie en Ubuntu.
’n Paar weke gelede het News24 berig oor ’n petroljoggie, Warren Bhebe, wat uit sy eie sak betaal het vir ’n man wie se kar sonder petrol gaan staan het. Hy het ook sommer R100 ekstra bygesit.
Ten spyte daarvan dat hy self minimumloon verdien.
Die storie het die nuus gehaal, want dit verras ons. Ons dink outomaties iemand wat minder het, het niks om te gee nie. Maar dis verkeerd.
Die waarheid is: ons hou nie daarvan om afhanklik te wees nie. Ons is te trots. Ons mis soms die gawe om deur ander geseën te word.
En dan sê God dalk ook vir ons: “Jou dwaas.”
Ubuntu sê: “Ek is omdat ons is.”
Ons menswees bestaan nie in isolasie nie. Ons word onsself deur ander mense.
En dit is presies wat die Bybel sê: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”
God gee ons vir mekaar. Ons behoort aan mekaar.
Dis die ekonomie van genade:
Om te gee sonder vrees. Om te ontvang sonder skaamte. Om mekaar se vreugde, waardigheid en oorlewing te dra.
So, wat beland in jóú skuur?
Miskien is dit jou geld. Miskien jou tyd. Jou sin vir humor. Jou gawe om musiek te maak. Jou vermoë om net regtig te luister.
Mag dit nie opgegaar bly nie. Mag dit vloei.
“So gaan dit,” sê Jesus, “met dié wat vir hulleself skatte bymekaarmaak maar nie ryk is in die oë van God nie.”
En net ’n paar hoofstukke later gee Jesus self die laaste wat Hy het — sy eie lewe. Hy hou niks terug nie. Selfs aan die einde gee Hy nog: vergifnis, liefde, ’n moeder en ’n vriend aan mekaar.
“Julle behoort aan mekaar,” sê Hy.
En dalk is dit al wat ons moet onthou in ’n wêreld wat ons wil oortuig ons is alleen:
Ons behoort steeds aan mekaar. Dis die lekker deel.






