’n Petroljoggie en Ubuntu

Jesus vertel van ’n ryk man wat soveel het dat hy sy skure moet afbreek en groter bou. Sy plan: sit terug, ontspan, eet, drink en leef lekker.

En dan — net nadat die deure van sy nuwe skuur gesluit is — gaan hy dood.
God sê vir hom: “Jou dwaas.” (Lukas 12)

Dis harde woorde.

En wat hier gebeur gaan nie net oor luukse leefstyl-gierigheid nie. Dis groter as dit. Dis oor die versoekings van opgaar.

Ons almal bou skure.

Sommige van ons maak dit vol met geld of goed. Ander hou liefde terug. Ander bêre hul talente daarbinne.

Dalk doen ons dit omdat die lewe hard is. Omdat mense ons teleurgestel het. Omdat ons bang is vir nog verlies.

Maar Jesus wys ’n ander ekonomie: nie een waar jy alles styf moet vashou nie, maar een waar jy vrylik leef, gee en ontvang.

Hy noem die ryk man ’n dwaas. Nie omdat hy suksesvol was nie, maar omdat hy dít gemis het:

Die vreugde om iemand anders te help. Die bevryding wat kom met vrygewigheid. Die ervaring om self te ontvang.

Hy het gierig geraak, nie net met sy besittings nie, maar ook met sy kans om deur ander liefgehê te word.

Wat beteken dit om ryk voor God te wees?

Dit begin by raaksien: God het reeds buitensporig oorvloedig geskep.

Elf duisend voëlspesies. Miljarde ligjare se sterre. Duisende soorte blomme en mense. Skaarsheid is nie in God se woordeskat nie. Dis iets wat óns skep uit vrees.

Om ryk voor God te wees, is om in daardie oorvloed te leef. Nie in vashou nie, maar in loslaat.

Gee en ontvang

Ek onthou toe my oudste dogter, Thea-Mari, gebore is. Ek wou alles self doen. Niemand moes help nie. Ek was sterk genoeg. Onafhanklik genoeg.

By Ana-Lia se geboorte was ek al ’n bietjie minder dwaas. Ek het die susters laat help, en daardie ekstra uur se slaap gekry wat ek só nodig gehad het.

Soms is dit moeiliker om te ontvang as om te gee. Want dit laat ons weerloos voel. Afhanklik. Maar juis dáár ontdek ons mekaar.

’n Petroljoggie en Ubuntu.

’n Paar weke gelede het News24 berig oor ’n petroljoggie, Warren Bhebe, wat uit sy eie sak betaal het vir ’n man wie se kar sonder petrol gaan staan het. Hy het ook sommer R100 ekstra bygesit.

Ten spyte daarvan dat hy self minimumloon verdien.

Die storie het die nuus gehaal, want dit verras ons. Ons dink outomaties iemand wat minder het, het niks om te gee nie. Maar dis verkeerd.

Die waarheid is: ons hou nie daarvan om afhanklik te wees nie. Ons is te trots. Ons mis soms die gawe om deur ander geseën te word.

En dan sê God dalk ook vir ons: “Jou dwaas.”

Ubuntu sê: “Ek is omdat ons is.”
Ons menswees bestaan nie in isolasie nie. Ons word onsself deur ander mense.

En dit is presies wat die Bybel sê: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”

God gee ons vir mekaar. Ons behoort aan mekaar.

Dis die ekonomie van genade:

Om te gee sonder vrees. Om te ontvang sonder skaamte. Om mekaar se vreugde, waardigheid en oorlewing te dra.

So, wat beland in jóú skuur?

Miskien is dit jou geld. Miskien jou tyd. Jou sin vir humor. Jou gawe om musiek te maak. Jou vermoë om net regtig te luister.

Mag dit nie opgegaar bly nie. Mag dit vloei.

“So gaan dit,” sê Jesus, “met dié wat vir hulleself skatte bymekaarmaak maar nie ryk is in die oë van God nie.”

En net ’n paar hoofstukke later gee Jesus self die laaste wat Hy het — sy eie lewe. Hy hou niks terug nie. Selfs aan die einde gee Hy nog: vergifnis, liefde, ’n moeder en ’n vriend aan mekaar.

“Julle behoort aan mekaar,” sê Hy.

En dalk is dit al wat ons moet onthou in ’n wêreld wat ons wil oortuig ons is alleen:

Ons behoort steeds aan mekaar. Dis die lekker deel.

Wanneer Jou Dummy Weg is

Ek vra Sondag vir die gemeente: “Waarin vind jy jou sekuriteit – anders as in God?” Dis ’n ongemaklike vraag, veral as jy eerlik met jouself is.

Nou, as jy my tweejarige vra, is die antwoord maklik: sy dummy. Die wêreld mag dalk ineenstort, maar solank hy daai stukkie plastiek en silikoon in sy mond het, is alles reg. Hy kan slaap, stil wees en troos vind. Sonder dit? Paniek. Dis eintlik snaaks hoe duidelik kinders hul afhanklikheid wys. Maar dis ook eerlik. En dit laat my wonder: Wat is my “dummy”?

Vir my is dit dalk ’n plan. Of beheer. Of sekerheid oor geld, gesondheid, of werk. Dikwels is dit die illusie dat ek als onder beheer het. Dis dinge wat nie verkeerd is nie – maar wat maklik in afgode verander wanneer ek daarop begin staatmaak vir my vrede.

Ons is hierdie week in Eksodus 14, daardie dramatiese oomblik waar Israel tussen Farao se leër en die see vasgevang staan. Dit is ‘n storie vol beweging, vrees, en – uiteindelik – redding. Maar wat my tref, is hoe menslik hulle reaksie is:

“Het jy ons hierheen gebring om te sterf? Was daar nie genoeg grafte in Egipte nie?”
“Laat ons liewer teruggaan na Egipte!”

Ek herken daardie stem. Dis die stem van vrees. Van iemand wat eerder terug sal gaan na slawerny as om in die onbekende te vertrou. Want slawerny is darem ten minste bekend. Dit voel sekerder as geloof.

Die volk het vergeet hoe God hulle uit Egipte gelei het. Die wonderwerke. Die wolkkolom. Die plae. Die bloed teen die deurkosyne. God se voorsiening was vars in hulle geheue… maar nie in hulle hart nie.

En ek verstaan dit. Ek vergeet ook.

Dis maklik om te sê “God sal voorsien” wanneer daar genoeg geld in die bank is, genoeg kos in die kas, en ek weet wat môre bring. Maar geloof word eers sigbaar wanneer jy die see voor jou sien, die vyand agter jou hoor aankom, en God sê: “Gaan aan!” – al is daar nog nie ‘n pad nie.

Ek sien dit in my eie lewe. Wanneer my planne nie uitwerk nie. Wanneer onsekerheid intree. Wanneer ek nie weet wat volgende is nie. Dis dan wanneer my “dummy” verdwyn. En dan ontdek ek iets: ek raak paniekerig. Want ek was nie regtig op God se voorsiening gefokus nie – ek was afhanklik van daardie sekere iets. My dummy. My Egipte.

Ek dink weer aan my seuntjie. Hy gaan nie eers soek vir sy dummy nie – hy vra my. Vol vertroue. “Mamma, dummy?” Dan sê ek “Nee, jy is mos nou ‘n groot seun”, dan is dit eers drama… maar dan klou hy vas aan my. Want as die dummy nie daar is nie, moet ek wees. Ek moet troos wees. Ek moet veiligheid wees.

En is dit nie wat God van ons vra nie?

Om op te hou klou aan die goed wat net tydelik troos bring – en eerder aan Hom vas te hou? Selfs as ons dit nie verstaan nie. Selfs as die pad onbekend is. Om Hom toe te laat om ons veiligheid te wees.

Wat my die meeste in Eksodus 14 tref, is vers 15. God sê vir Moses:

“Wat roep jy tot My? Sê vir die Israeliete hulle moet aanhou trek.”

In ander woorde: Hou op stilstaan in paniek. Gaan vorentoe. Ek maak ’n pad. Dis nie hoe ek gewoonlik dink geloof werk nie. Ek wag gewoonlik vir God om eers die pad oop te maak, en dan sal ek beweeg. Maar geloof werk anders: ek moet begin loop, en God maak die pad oop terwyl ek beweeg. Dis teen-intuïtief. Maar dis hoe God se koninkryk werk.

Ons het ‘n keuse: ons kan terugverlang na Egipte – na ons ou vorme van sekuriteit – of ons kan God vertrou met elke tree in die onbekende in. Geloof beteken nie ons sal altyd weet waarheen ons gaan nie. Dit beteken ons weet met Wie ons gaan. Dalk moet ek myself minder afvra “Wat gaan môre gebeur?” en meer vra “Wat sê God vandag?” Dalk is die uitnodiging om op te hou probeer beheer uitoefen en eerder te sê:

“Here, ek is bang. Ek sien nie die pad nie. Maar ek kies om te beweeg. Ek kies om U meer te vertrou as my dummy. Ek kies U bo Egipte.”

So ek vra jou vandag – soos ek myself gevra het:

Waarin vind jy jou sekuriteit – anders as God?
Wat is daardie ding waarsonder jy dink jy nie kan lewe nie?
En… is jy bereid om dit vir ’n oomblik neer te sit en God te vra om jou hand te neem?

Jy hoef nie alles te verstaan nie. Jy hoef net te beweeg.

Hy is saam met jou.

Hoe moet ons dissipels wees?

Die Bybel vertel vir ons ’n storie wat oor baie meer gaan as net ons persoonlike redding of morele verbetering— dit is die storie van ’n roeping. Van die begin af, in Eden al, is die mensdom geskep om koninklike priesters te wees—om saam met God oor die skepping te heers en om Sy teenwoordigheid en seën op aarde te verteenwoordig. Maar toe die mens besluit om hul eie pad te kies, is daardie roeping verbreek. Eden is net ’n gedagte. Ons identiteit as priesters is prysgegee.

God het egter nooit opgegee op ons nie. Deur die hele Bybel sien ons beloftes van Iemand wat ons roeping sou herstel—’n beter priester soos Melgisedek, ’n nuwe Moses, ’n groter Dawid. Al hierdie figure wys vorentoe, na Jesus toe — die uiteindelike koninklike priester. Hy het sy lewe gegee in liefde, die bose oorwin, en vir ons die weg terug na God se teenwoordigheid oopgemaak.

Maar hier is die deel wat ons dikwels miskyk: Jesus het ons nie net gered van iets nie; Hy het ons gered vir iets. Ná sy opstanding is Jesus as hemelse Hoëpriester verhef. En toe stort Hy die Heilige Gees uit met Pinkster. Skielik word gewone mense—vissermanne, tollenaars, armes, slawe —lewende tempels, gevul met God se teenwoordigheid. Hulle word die nuwe priesterskap. 

Dis nou ons…

Om ’n dissipel van Jesus te wees, beteken om jou oorspronklike roeping te herontdek. Ons is nou God se lewende tempels, sy koninklike priesterskap (1 Petrus 2:9). Maar dit beteken nie ons dra spesiale klere of staan in ’n gebou nie. Dit beteken ons leef elke deel van ons gewone lewens met ’n buitengewone doel.

Soos die priesters van ouds, aanbid ons — met musiek, poësie en lof wat God vereer. Ons bring offers — nie diere nie, maar onsself: ons tyd, ons energie, ons hulpbronne. Ons sorg vir die armes, bid vir die gebrokenes, pleit vir dié sonder ’n stem. Ons word lewende offers (Romeine 12:1), wat Jesus se liefde in die wêreld beliggaam. Dit is in elkgeval waarvoor ons geroep en bemagtig word. 

Dissipelskap beteken nie om weg te vlug van die wêreld nie, maar om daar in te gaan — as priesters. In ons werk, ons huise en ons gemeenskappe, leef ons as God se verteenwoordigers. Ons tree op, praat en het lief soos Jesus. Ons leef só dat hemel en aarde weer ontmoet. So word die hemel vir almal ’n werklikheid. 

Dit is ons roeping: nie net om in Jesus te glo nie, maar om soos Jesus te wees—die koninklike priester wat sy lewe gegee het sodat ons weer kan lewe.

Dit alles vereis dat ons heel eerste, ’n verhouding moet hê met die Koning van die heelal, Jesus self! Werk vandag aan hierdie verhouding…

‘n Man op ‘n bus

Ek het ’n klasmaat, Bernard, op Universiteit gehad wat uiters intelligent was en akademies baie goed presteer het. Ek onthou veral drie dinge van hom:

  • Ek het ’n prent teen my kamermuur gehad van ’n meisie wat in ’n park op ’n bankie sit. Toe Bernard die eerste keer by my kom kuier het, het hy voor die prent gaan staan en gesê: “Fotograaf James Wilson, foto geneem in 1978 in Kew Gardens, Londen.” Hoe hy dit geweet het weet ek glad nie, maar ek het later die prent afgehaal en agterop gelees dat Bernard presies reg was.
  • Toe ons by geleentheid buite die lokale moes wag voor ’n eksamen, het ons by die motorfiets parkering gestaan. Bernard het na een van hulle gewys en gesê: “Kawasaki 650, 22km per liter, kraglewering 200 …” Hy het aangehou praat, maar ek het hom maar net geglo, ek het nie gedink om dit ook te probeer toets nie.
  • Bernard het later, heeltemal teen my verwagting, ’n meisie ontmoet en ek het hulle dikwels hand aan hand in die straat sien loop. Ek het verneem dat die meisie se ouers baie beïndruk met Bernard was, want sedert hulle ontmoeting het hulle dogter se punte met meer as 10% gestyg.

Bernard het toe nooit ’n dominee geword nie. Hy was geensins ongelowig nie, hy het net meer belang gestel in Grieks en Hebreeus as in mense. Ek verneem hy het ’n dosent in Antieke Tale geword.

Waarom dink ek aan Bernard? Omdat hy alles verstaan het van Grieks en Hebreeus, maar baie min van die gewone studentelewe. Hy kon ingewikkelde probleme uitpluis, maar nie mense nie.

Wat is die doel van christenwees?

Is dit net om te weet dat Jesus vir jou sonde gesterf het en dat jy daarom eendag hemel toe gaan? Is dit om die Bybel goed te ken? Of is dit (veral) om ’n begeerte te hê om elke dag aan jou geloofsverhouding met God te werk en dit hoe langer hoe meer te versterk?

In gemeentes ontdek ons dat ons verhouding met God ons lewens moet vorm, en ons moet dit aktief inoefen dag na dag.

Daar is ’n spreuk wat sê: “Gee my ’n kind tot op ouderdom 7 jaar en ek sal hom/haar vir altyd ’n gelowige maak.” Die veronderstelling is dat mens ’n kind so kan beïnvloed dat die indruk wat jy op hom/haar maak, lewenslank is. Terselfdertyd wys dit ook op ’n ander (ontstellende) saak, naamlik dat mense bevooroordeeld is ten opsigte van die kennis wat hulle reeds besit en meestal net soek na inligting wat hulle bestaande kennis bevestig (“confirmation bias”). Mense verander nie sommer van opinie as hulle eers hulle keuse gemaak het nie.

Oral probeer gemeentes mense sodanig beïnvloed dat hulle gehoorsame volgelinge van Jesus sal wees. Maar dit word al hoe meer duidelik: Die kerk sal nooit nét met inligting (regte leerstellings) lidmate se gedrag kan verander nie. Trouens, dit speel ’n veel kleiner rol as wat ons dink. Vra dit maar vir enige persoon wat hulle gewoontes wil verander: die alkohol-afhanklikes, die onfikses wat meer wil oefen, die wat op dieet wil gaan, die wat wil ophou rook, ens.

Hoe werk geloofsvorming dan? Kan volwassenes nog verander?

Jesus het hierdie saak aangespreek deur sy dissipels bloot te stel aan daaglikse leefgewoontes wat “tweede natuur” by hulle sou word. Hulle moes nie meer dink voor hulle doen nie, hul gedrag moes spontaan gebeur. Soos wanneer mens ’n musiekinstrument bemeester. Geoefende kitaarspelers kyk nie meer waar hulle vingers druk nie, hulle vingers vind die plek spontaan.

In die gelykenis van die skeiding van die skape en die bokke by die eindtyd (Matteus 25), vertel Jesus dat twee groepe mense op grond van wat hulle gedóén het, geskei sal word. Een groep het “reg” opgetree, die ander “verkeerd”. Beide groepe vra: “Wánneer het ons dit gedoen?” Hulle het gewoon nie besef dat hulle dit doen nie, beide die goeie en slegte gewoontes was “tweede natuur”. Geloof word daagliks gevorm deur dade van gehoorsaamheid. En daardie dade vorm dan ons lewe.

Ons ry Vrydag in die bus op pad na Kathu om ons (herstelde) voertuig te gaan haal. ’n Man klim by een van die stopplekke in en kom sit langs ons. Later begin ons praat en ons hoor hy is ’n pastoor in Upington. En wanneer hy hoor ek is ’n dominee sê hy: “Ek het net ’n aanvoeling gekry ek moet hier kom sit. Die manier waarop julle my gegroet en ingenooi het, het vir my gesê ek wil graag hier sit.” So eenvoudig en maklik vind ons gemeenskap tussen vreemdelinge.

Ons moet net sulke goeie verstaners wees van die lewe soos wat ons van die Bybel moet wees. Want God stuur ons na mense toe.

‘n Soektog na geluk

As jy vandag ‘n lys moet opstel van alles waarvoor jy onvoorwaardelik lief is, hoe lank gaan dit vat voordat jy jou eie naam neerskryf?

Eendag lank, lank gelede in die land van Min Tevrede, was daar ‘n jong blonde dogtertjie, Sera. Sera was die enigste kind, haar oë groot en haar toekoms blink. Almal rondom haar het planne gehad: om slim te word en om groot te raak. Al wat ander meisies wou doen, was mooimaak en tittewyt, maar vir Sera, was dit moeilik om vir haarself te kyk. Sy sou nooit universiteit toe gaan nie, nooit belese raak of ‘n man vang nie. Sera het ‘n ander droom gehad: sy wou geluk vind. Deur die wêreld het sy gereis, sy het oornag by elke gehuggie en in elke paleis. Vir jare lank het sy gesoek, in elke dorp en om elke hoek. Eendag, tussen twee dorpe, langs ‘n koue waterstroom, ontmoet sy die een by wie haar soektog sou eindig.

Die man se hand hou toe vir haar ‘n kommetjie koue water uit waarmee sy haar dors kon les. Hiermee sluk sy haar dors weg en gooi die res daarvan in haar fles. ”Ek soek na geluk,” sê Sera vir die man. Hy kyk na haar en glimlag, terwyl hy sy vuil hare met sy vingers uit sy gesig uit kam. “Geluk is nie iets wat ‘n mens kan weggee nie,” sê hy vir haar, maar loop weg en roep haar om hom te volg met ‘n handgebaar. Deur die woud klim hulle oor stompe, deur strome en verby krokodille. Die paadjie bloei uit in ‘n oopte, met ‘n klein gehuggie in die middel van die droogte. Daarbinne is net die nodigste: ‘n katel, ‘n tafeltjie en ‘n pragtige swaar houtkis. “Geluk kan ek nie vir jou gee nie, maar dit weet ek gewis…,” sê die vuil-haar man terwyl hy liggies teen die katel rus. Hy buig oor in die kis en haal ‘n satynsakkie uit. Sy oë blink met die sakkie in sy hand, terwyl hy diep in hare kyk. ”… In hierdie sakkie is die mooiste geskenk wat ek nog ooit gekry het”, sê hy en hou dit na haar toe uit. “Geluk sal vanself kom as jy mooi genoeg daarin kyk.”

Terug by die stroompie met die satynsakkie in haar hand, sit Sera rustig, haal diep asem en maak  haar gedagtes vakant. Uit die sakkie haal sy ‘n klein vierkantige badkamerspieël. Sy kyk na haarself en voel haar oë deurdring tot diep in haar siel. Haar lewe lank reis sy nog altyd om iewers geluk te gaan vind …

en hier vind sy geluk …

in die oë van ‘n kind.

Dit is háár oë,

en hulle blink…

En dalk is dit waar Sera se storie met joune kruis. Want hoe gereeld soek ek en jy nie geluk in ver plekke, nuwe planne, ander mense, of die volgende groot ding nie? Soos Sera, reis ons deur dorpe en droom ons van paleise. Maar uiteindelik, tussen al die geraas en gejaag, wag daar ‘n eenvoudige stroompie – ’n plek van rus – en ’n spieëltjie. Hierdie spieël kan vir ons verskillende goed laat sien. Deur wie se oë kyk ons in hierdie spieël? Die wêreld s’n, of God s’n?

Die Bybel herinner ons telkens daaraan dat ons nie eers ver hoef te gaan om waarde of geluk te vind nie. Psalm 139 sê ons is wonderbaarlik geskape. Ons lees sommer op die eerste paar bladsye van die Bybel dat ons na die beeld van God geskep word; Lukas 17:21 sê die koninkryk van God is nie net daar buite in die wêreld nie, maar binne-in ons. 2 Korintiërs 3:18 praat van die spieël waarin ons kyk en die heerlikheid van God sien – en dit wat ons sien, verander ons. Wat al hierdie tekste saam vir ons sê, is eenvoudig, maar kragtig: geluk is nie iets wat jy verdien of moet jaag nie. Dit kom nie as jy hoog genoeg geklim het of genoeg bymekaar gemaak het nie. Dit is iets wat jy ontdek wanneer jy besef wie jy in God se oë is.

Sera het dit eers verstaan toe sy in haar eie oë kyk – toe sy haarself sien soos God haar sien. Sy het gesoek vir geluk en gevind dat dit al die tyd in haar was: in haar waardigheid, haar siel, haar bestaan, haar Skepper.

Miskien moet jy ook vandag ’n oomblik neem, stil raak en kyk. Kyk nie net in ’n gewone spieël nie, maar in die waarheid van wie jy is. In die waarheid van Wie jou gemaak het. Vra weer vir jouself die vraag waarmee ek begin het:

As jy vandag ’n lys moet opstel van alles waarvoor jy onvoorwaardelik lief is – hoe lank gaan dit vat voor jy jou eie naam neerskryf?

Dieselfde naam wat in die Skepper van die heelal se handpalm gegraveer is.

Mag jy, soos Sera, ontdek: geluk begin nie daar buite nie. Dit begin in jou oë. En God laat hulle blink.

Wanneer die water terug is, maar die dors bly…

Deesdae kan ons dae sonder krag, redelik gerieflik oorleef met gasstowe, wegneemkos en sonpanele. Dit bly ’n reuse frustrasie, maar met ’n paar kersies vir lig kan ons relatief normaal aangaan. Laat ons egter vyf dae sonder water wees, en ons moed droog op. Selfs die water wat jy vir ingeval in die bad getap het raak op ’n stadium klaar. Jy kan nie kosmaak nie. Die toilette kan nie spoel nie. Dis ’n reuse frustrasie. Kort-kort maak ons krane oop net om te onthou dat daar nie water is nie, en dit maak ons van voor af kwaad. 

Die afgelope week sonder water het my baie laat dink en baie geleer. 

Eerstens het ek besef hoe afhanklik ons van water is. Ek het besef hoeveel water ons daagliks gebruik en mors sonder om daaraan te dink. Ek het besef dat van ons, heeltemal te gemaklik is, te min doen, en selfs ons bediendes in die waterrye laat staan terwyl ons in die kar wag vir ons beurt. Ek het beleef hoe afsprake gekanseleer word gewoon omdat ons nie water by die huis het nie.

Het jy al ooit iewers in ’n woenstyn gestaan en geweet dat hierdie ’n ongenaakbare plek is. Waar nie water is nie, is nie lewe nie. So begin God se verhaal in die bybel ook op bladsy twee van Genesis met ’n dorre wêreld. God laat ’n fontein uit die grond uit borrel en alles verander! Plante, diere, lewe, mense… Hierdie fontein word ’n tuin, word Eden, en dit is maar net die begin van alles wat goed is. 

’n Rivier begin vloei en daar is oorvloed, vir almal. Dan die hartseer ironie: Tenspyte van al die water en lewe, bly die mens dors en dood. Hulle wil meer hê: meer wysheid, sekerhed en beslis meer beheer. In hulle soeke na nóg, word hulle dors en beland hulle in die woestyn – vêr wag van die paradys af. 

Maar God gee nie op nie…

Hy roep vir Jakob, ’n man met baie foute wat woestyn in vlug en op ’n put afkom. By hierdie put ontmoet hy ’n vrou, byna soos in die begin in die paradys, en sy 12 kinders, Israel, se storie begin oppnuut. Tenspyte van al die water wat God gee, bly hulle dors vir iets anders. Omdat hulle so dors het, beland hulle skoon in ballingskap – totaal uitgedroog. Esegiël noem hulle droeë bene wat in die son lê. Tog kom God weer, en weer, gee water en blaas lewe in hulle sodat hulle weereens op hulle voete kan kom. 

En dan kom Jesus.

Hy kom op ’n slag by dieselfde put aan as Jakob van ouds. Weer is daar ’n vrou. Dan sê Jesus vir haar: ‘Jy sal altyd dors bly as jy net van hierdie water drink. Ek het egter vir jou water wat jou diepste dors kan les’. 

Hy praat van God se lewe wat deur Hom, na ons toe vloei. In Jesus word dit vir elke liewe een van ons ’n realiteit. Dit gebeur selfs aan die kruis. Die soldate steek ’n spies in sy sy en daar loop bloed uit die wond uit – maar ook water. Net nóg ’n herinnering, soos ons dit in die kategismes leer: God is die aller oorvloedige fontein van alles wat goed is. Jesus gee vir my en jou ook water – water wat lewe gee.

Spoorsnyers van Christus

Een Liggaam, een Gees.

Ek het onlangs die voorreg gehad om vir ‘n week in Namibië te kuier. Die doel van hierdie uitstappie was dat ons as sesdejaars moes gaan sien hoe die kerk onder die Boesmans lyk. 

Ek moet bieg: ek het glad nie uitgesien vir hierdie uitreik nie, en as ek eerlik is, het ek gedink dit sou ‘n mors van tyd wees. Dit was egter glad nie!

Ek wil graag bietjie met julle deel oor hoe die kerk onder die boesmangemeenskappe funksioneer.

Die interessante ding is dat die meeste van hierdie gemeentes deel vorm van die NG Kerk, met dominee, diaken, ouderling en selfs ’n kerkraad! Tog is dit heeltemal anders as waaraan ons hier in Pretoria-Oos gewoond is.

Die eerste aspek van hulle kerk wat my opgeval het, is dat die mense werklik hunker om meer van die evangelie te leer. Hou in gedagte dat hierdie mense nie kan lees of skryf nie, so die evangelie word deur middel van prentjies aan hulle oor gedra, maar hulle WIL daar wees. Hulle kerke sit in die middel van die week omtrent voller as wat ons kerk op ‘n Sondag sit! Die mense smag daarna.

Die tweede aspek van kerk wees wat ek wil uitlig doen ek graag aan die hand van ‘n verhaal wat ons gehoor het.

Een van my mede studente het vir ‘n gemeente gevra wat die grootste wonderwerk is, wat hulle al beleef het. Die antwoord het meerderheid van ons verbaas! Want ons dink mos aan wonderwerk as hierdie enorme gebeure wat plaasvind in die bo-natuurlike, maar tog mis ons dan die wonderwerk hier reg voor ons. Die een ouderling van die gemeente antwoord toe en sê dat die grootste wonderwerk wat hy al beleef het, was dat hy vir sewe dae sonder kos was en dat God elke dag vir hom die nodige krag gegee het om op te staan en aan te gaan.

Die boesmans verstaan iets daarvan dat berge nie geskuif hoef te word voordat iets ‘n wonderwerk is nie, ‘n wonderwerk kan iets na en klein ook wees – ek wonder of ons nie soms hierdie massiewe dade verwag terwyl ons die wonderwerke naby ons miskyk nie.

‘n Verhaal van ‘n ander gemeente help hier ook om die punt te staaf. Terwyl ons onder ‘n boom sit en vrae verruil oor hoe ons God meer in die samelewing kan sien antwoord ‘n stokou oom. Hy sê:

‘Ons is te vinnig vir God.’

Nou onmiddellik wil mens te kere gaan en die stelling uitmekaar trek, want beledig ons nie vir God as ons dit sê nie? Maar tog is daar ‘n stukkie waarheid in hierdie stelling, want ons leef so ‘vinnig’ en in so ‘n kits wêreld dat ons dikwels te gejaagd is om God raak te sien. So is ons nie dan maar wel ‘te vinnig’ vir God nie?

Laastens wil ek graag met julle deel oor hoe verskeie kerke en denominasies werk in Boesmanland. Net soos in ons samelewing is daar ‘n magdom verskillende kerke. NG, Hervormend, Gereformeerd, ZCC, Sewendedag-Adventiste en die lot! 

Hier is egter die kruks van die verhaal, alhoewel elkeen deel vorm van hulle eie kerk kom hulle ALMAL op ‘n Sondag saam om Christus te aanbid en te loof. 

Een liggaam, een Gees. 

Dit was die herhalende gesegde vir die week gewees. Maak nie saak hoe ver  die gemeentes uit mekaar is nie – en glo my minimum is omtrent 50 kilos uit mekaar uit! – was dit hierdie woorde wat iewers gefunksioneer het.

So het ek dan tot die besef gekom dat alhoewel dogma beslis ‘n plek het in die kerk en dat ons definitief moet streef om ‘n Bybelse teologie voorendag te sit, moet dogma geensins Christus se plek vervang nie. Christus is die middelpunt van ons hele geloof – of jy nou deel is van 3CI, ZCC, Hervormend of NG; dit gaan oor Christus. 

Soli Deo gloria.

P.S.

Die boesmans het nie ‘n woord vir dissipel in hulle taal nie. So moes die sendelinge iets uitdink om die idee van ‘n dissipel oor te dra. Hulle kom toe met die idee van ‘n ‘spoorsnyer van Christus’ na vore, en vandag is dit hoe elke gelowige in Boesmanland homself beskryf – ‘n spoorsnyer van Christus.

Mag jy ‘n spoorsnyer van Christus wees elke dag van jou lewe.

Volgelingstatus

So… Ramaphosa het gister in die Withuis gestaan.
In dieselfde gebou waar Trump ‘n paar dae gelede gesê het:

“Daar’s ‘n volksmoord op Afrikaners in Suid-Afrika.”

‘n Groep van 59 mense, wit Suid-Afrikaners, kry vlugtelingstatus in die VSA in net drie maande. Terwyl ander mense al jare wag. Sommige met bloed op hulle hande, kinders in hul arms, en oorlog in hulle oë.

Maar dié groep?
Ballonne.
Vlae.
Rooi. Wit. Blou.

Nou, ek’s nie hier om ‘n politieke posisie te stel nie. Ek’s nie hier om te sê wie reg of verkeerd is nie. Ek’s net hier om te sê… ek weet jy is bekommerd. Ek sien die vrees.

En vrees is nie net iets wat jy voel nie. Dis iets wat jou skuif. Dis iets wat vir jou fluister: “Jy’s nie veilig nie.” Dis iets wat jou laat pak, vlug, bly, vries, veg.
Soms alles op een dag.

En ja, ek sien dit in die gesigte van mense wat vlieg na ‘n nuwe land. Maar ek sien dit ook in die kommentaar onderaan nuusberigte.

In die memes.
In die vrae.
In die grappe.
In die stilte ook.

Want vrees is nie net in dít wat gesê word nie. Dis ook in wat nie gesê word nie.

Cyril staan daar — handdruk, kameras, diplomaties. Hy moet regmaak wat gebreek is, maar hy weet ook: hy’s nie net daar vir sake nie. Hy’s daar vir mense. Vir stories.
Vir geskiedenis wat soos ‘n spook by jou tafel sit en nie wil loop nie.

En ek wonder… Wat doen jy wanneer die storm nie buite jou is nie,
maar binne jou?

Markus 4.
Dissipels.
Boot.
Storm.
Jesus slaap.

En iemand gil: “Gee U nie om dat ons besig is om te sink nie?”

Dis die vraag, né?

Nie net toe nie.
Maar vandag.

In Pretoria.
In Polokwane.
In Potch.

In jou binnekamer om 3-uur die oggend.

“Gee U nie om nie, Here?”

Want die boot is vol water. Die wind is wild. En jy voel soos ’n dom nar omdat jy ooit gedink het geloof sal jou hiervan spaar.

Die Bybel sê Jesus het opgestaan. Nie net opgestaan uit die dood nie (alhoewel dit ook waar is). Nee — opgestaan in die boot. En toe praat Hy. Nie met die dissipels nie. Met die storm.

“Stil. Word rustig.”

En die see — wat in daardie wêreld die simbool van chaos, dood en monsters was — luister.

Luister.

Ek hou van daardie Jesus. Nie omdat Hy alles regmaak nie.
Maar omdat Hy daar is. In die chaos. In die ongemak. In die ongemaklike gesprekke. In die storm waarin jy nie weet of jy gaan uitkom nie.

Nie omdat jy swak is nie, maar omdat die golwe sterker is as jou strategieë en jou planne en jou beheer.

So hier’s my vraag:
Wat as geloof nie is om te sê “Ek glo” met ’n regop rug en ‘n kerkbank glimlag nie…
maar eerder om nat, bewerig en bietjie kwaad te sê:
“Ek weet nie of ek dit gaan maak nie, maar Here… ek’s nog in die boot.”

Wat as geloof nie beteken jy’s nie bang nie… maar dat jy bang is én bly?

Wat as dit nie gaan oor om jou storms te verklaar nie…
maar om te ontdek wie saam met jou in hulle is?

Geloof klink anders as wat dit voel.
Ons sê ons glo, maar ons klim nie in die boot nie.
Want dit voel veiliger om op die wal te bly en kommentaar lewer.

Jesus nooi jou nie om te verdrink nie.

Hy sê: “Kom, laat ons gaan na die oorkant toe.”

Daar’s ’n bestemming.
Daar’s ’n belofte.
Nie van gemak nie, maar van teenwoordigheid.

Dis nie altyd die storm wat stil word nie.
Soms is dit jy.
Soms is dit jou oë wat oopgaan.
Soms is dit net daardie heilige wete: Ek’s nie alleen nie.

So dalk is dit tyd… om op te hou skree op die golwe en weer te kyk wie saam met jou in die boot is.

Hy wat wind en water stilmaak. Hy wat weet van storms. Hy wat jou naam ken.

En dalk. Net dalk.
Is geloof vandag om te sê:

“Ek weet nie hoe nie. Ek weet nie wanneer nie. Maar ek klim in. Al is ek bang. Al is die golwe hoog. Ek’s in.”

Want geloof is nie die afwesigheid van storms nie.
Geloof is om te wéét wie in jou boot is.

‘n Middagete stappie

Wanneer laas het jy die kar parkeer en sommer winkel toe gestap vir middagete? Ek is bevrees dat ons soveel dinge rondom ons miskyk omdat ons gewoon altyd in derde rat oppad is iewers heen. Daar is die bekende Engelse vraag: “When did you last stop to smell the roses?”. Ek wil dieselfde vraag vir jou vra. Tog gaan dit selfs nog verder as om te ruik. Wanneer laas het jy selfs gesien dat daar rose langs die pad in die son pronk?

Ek hou nogal van stap. Deesdae maak ek ’n bietjie meer tyd daarvoor, en probeer dit doen sonder my oorfone in my ore of my selfoon in my hand. Ek probeer rondkyk, raaksien, en gebruik dit as ’n geleentheid om sommer net met die Here te praat. Ek is elke keer ontnugter oor alles wat ek raaksien en beleef. Net nou die dag loop ek om te gaan middagete koop. Terwyl ek so stap wonder ek — waarom doen ons dit so min? Is dit omdat ons skaam kry? Wat sal mense sê wanneer hulle ons so sien loop sonder wiele onder ons? Gaan iemand my sien wat my ken? Dit klink belaglik, en tog is dit van die vrae wat deur my eie gedagtes geflits het toe ek die eerste paar keer sommer so alleen sole op die teer gesit het winkel toe.

Kom ek vertel vir jou van so ’n stappie.

Hier in die stad is alles baie meer gerieflik as wat ons dalk besef. Ek en my gesin bly minder as drie kilometer van twee winkelsentrums af. Jy kan kies waar, wat en selfs hoe jy die kooptog wil aanpak. Op hierdie dag het ons lus vir vars broodrolle en ’n gaargemaakte eisbein. Ek stap, en rondom my is dit besig. Ek dink nie eers die stappie was vyftien minute nie, en tog sou ek ’n bundel kon skryf oor alles wat ek beleef het. Skaars uit die hek uit het twee baie maer honde verwoed vir my geblaf. Soveel so dat ek maar aan die ander kant van die pad verbygestap het. By die eerste sirkel val dit my op dat die stadsraad ’n paar bome uitgehaal het op die sypaadjie. Ek het dit al baie gesien met die verbyry, maar vandag moet ek kringe loop rondom gate en slote, tydelike baniere en plastiekbottels van die dors grouers en kappers en wegryers. Ook by die eerste robot moet ek ’n rukkie stilstaan, want daar word aan die pad gebou. ’n Vroutjie staan met haar hande op haar knieë met ’n oranjerooi vlag in haar hand. Sy moet die verkeer reguleer wanneer die groot vragmotors se bakke vol is en die verkeer moet aandurf. Sy groet my, maar ek kan sien die in-die-son-stanery het haar vandag al moeg gemaak. By die tweede robot stap-draf ’n man ongemaklik met ’n boks in sy hande. “Wat dra jy so swaar?” vra ek vir hom. Hy maak die boks oop en wys vir my ’n hele oes ryp nartjies soos wat al die jare in my oupa se tuin gehang het. Hy sê vir my dat hy avokadopere ook het, en sy vriend is met ’n soortgelyke boks aan die sukkel oor ’n reeds rooi lig. Op die lamppale sien ek ’n verskeidenheid goed — op die eerste ’n handgeskrewe advertensie. As jy verslaaf is aan dagga, swaar dwelms of alkohol, en graag weer ’n normale lewe wil leef, bel hierdie nommer. Die volgende paal het ’n bloedrooi advertensie. Ek sien heel eerste die 18+ regs bo in die hoek. Hierdie bord adverteer die grootste ‘ADULT ONLY’ webblad in Suid-Afrika. Voor my sit ’n man op die sypaadjie met sy kop in sy hande, en verby my stap ’n vrou wat vir my sê: “Sjo, it’s hot today”.

Nadat ek by die winkel klaar is en my koopgoed gekoop het, stap ek anders terug huistoe.

Hierdie stappie het vir my baie meer gegee as ’n middagete.

Dit het weereens my oë oopgemaak. So dikwels is my oë so toe vir die mense, nuanses, seerkry en vreugdes rondom my. Vandag blammeer ek my kar. Met die sonskadu voor my oë en die lugverkoeler in my gesig lyk die wêreld darem maar baie anders. Tog is die wêreld op die voetgangerspad vir my meer eg. Ek beleef iets hier. Ek beleef mense se emosies en wonder wat hulle stories alles behels. Ek sien mense wat hulp nodig het, vriendelike glimlagte wat groet en ek wonder — waarom stap ons so min die ‘regte’ wêreld in?