Volgelingstatus

So… Ramaphosa het gister in die Withuis gestaan.
In dieselfde gebou waar Trump ‘n paar dae gelede gesê het:

“Daar’s ‘n volksmoord op Afrikaners in Suid-Afrika.”

‘n Groep van 59 mense, wit Suid-Afrikaners, kry vlugtelingstatus in die VSA in net drie maande. Terwyl ander mense al jare wag. Sommige met bloed op hulle hande, kinders in hul arms, en oorlog in hulle oë.

Maar dié groep?
Ballonne.
Vlae.
Rooi. Wit. Blou.

Nou, ek’s nie hier om ‘n politieke posisie te stel nie. Ek’s nie hier om te sê wie reg of verkeerd is nie. Ek’s net hier om te sê… ek weet jy is bekommerd. Ek sien die vrees.

En vrees is nie net iets wat jy voel nie. Dis iets wat jou skuif. Dis iets wat vir jou fluister: “Jy’s nie veilig nie.” Dis iets wat jou laat pak, vlug, bly, vries, veg.
Soms alles op een dag.

En ja, ek sien dit in die gesigte van mense wat vlieg na ‘n nuwe land. Maar ek sien dit ook in die kommentaar onderaan nuusberigte.

In die memes.
In die vrae.
In die grappe.
In die stilte ook.

Want vrees is nie net in dít wat gesê word nie. Dis ook in wat nie gesê word nie.

Cyril staan daar — handdruk, kameras, diplomaties. Hy moet regmaak wat gebreek is, maar hy weet ook: hy’s nie net daar vir sake nie. Hy’s daar vir mense. Vir stories.
Vir geskiedenis wat soos ‘n spook by jou tafel sit en nie wil loop nie.

En ek wonder… Wat doen jy wanneer die storm nie buite jou is nie,
maar binne jou?

Markus 4.
Dissipels.
Boot.
Storm.
Jesus slaap.

En iemand gil: “Gee U nie om dat ons besig is om te sink nie?”

Dis die vraag, né?

Nie net toe nie.
Maar vandag.

In Pretoria.
In Polokwane.
In Potch.

In jou binnekamer om 3-uur die oggend.

“Gee U nie om nie, Here?”

Want die boot is vol water. Die wind is wild. En jy voel soos ’n dom nar omdat jy ooit gedink het geloof sal jou hiervan spaar.

Die Bybel sê Jesus het opgestaan. Nie net opgestaan uit die dood nie (alhoewel dit ook waar is). Nee — opgestaan in die boot. En toe praat Hy. Nie met die dissipels nie. Met die storm.

“Stil. Word rustig.”

En die see — wat in daardie wêreld die simbool van chaos, dood en monsters was — luister.

Luister.

Ek hou van daardie Jesus. Nie omdat Hy alles regmaak nie.
Maar omdat Hy daar is. In die chaos. In die ongemak. In die ongemaklike gesprekke. In die storm waarin jy nie weet of jy gaan uitkom nie.

Nie omdat jy swak is nie, maar omdat die golwe sterker is as jou strategieë en jou planne en jou beheer.

So hier’s my vraag:
Wat as geloof nie is om te sê “Ek glo” met ’n regop rug en ‘n kerkbank glimlag nie…
maar eerder om nat, bewerig en bietjie kwaad te sê:
“Ek weet nie of ek dit gaan maak nie, maar Here… ek’s nog in die boot.”

Wat as geloof nie beteken jy’s nie bang nie… maar dat jy bang is én bly?

Wat as dit nie gaan oor om jou storms te verklaar nie…
maar om te ontdek wie saam met jou in hulle is?

Geloof klink anders as wat dit voel.
Ons sê ons glo, maar ons klim nie in die boot nie.
Want dit voel veiliger om op die wal te bly en kommentaar lewer.

Jesus nooi jou nie om te verdrink nie.

Hy sê: “Kom, laat ons gaan na die oorkant toe.”

Daar’s ’n bestemming.
Daar’s ’n belofte.
Nie van gemak nie, maar van teenwoordigheid.

Dis nie altyd die storm wat stil word nie.
Soms is dit jy.
Soms is dit jou oë wat oopgaan.
Soms is dit net daardie heilige wete: Ek’s nie alleen nie.

So dalk is dit tyd… om op te hou skree op die golwe en weer te kyk wie saam met jou in die boot is.

Hy wat wind en water stilmaak. Hy wat weet van storms. Hy wat jou naam ken.

En dalk. Net dalk.
Is geloof vandag om te sê:

“Ek weet nie hoe nie. Ek weet nie wanneer nie. Maar ek klim in. Al is ek bang. Al is die golwe hoog. Ek’s in.”

Want geloof is nie die afwesigheid van storms nie.
Geloof is om te wéét wie in jou boot is.

One thought on “Volgelingstatus

Leave a reply to Lekkervurigeaffêre Cancel reply